woensdag 29 september 2010

Dag 12: Sound of Music in Salzburg!

Nee kyk, die vorige aand het ek ´n kishou geslaap en het met aansienlik meer energie die volgende oggend opgestaan. Ons het ´n heerlike ontbyt in Hotel Markus Sittikus gehad en toe na Mirabellplatz vertrek om ons Sound of Music-toer te begin.



Ons het oudergewoonte agter in die bus stelling geneem (sodat Chris se bene in die paadjie kan wees) en ons gids het begin praat. Ek het egter 30 sekondes later gewens sy will liewer ophou! Dis ´n jongerige vrou (seker so in haar 2de helfte van haar dertigs), maar sy herinner my vreeslik baie aan ´n kind. Chris het haar snipperig genoem en ek moet sê dis ´n baie goeie beskrywing! Sy weet net die beste, die meeste en behandel ons toeriste asof ons kindertjies of skape is. Mens voel die hele tyd of jy will sê: „Ja, Juffrou, nee, Juffrou, gaan weg Juffrou!“ Boonop is sy nie eers ´n opregte Oostenryker nie, maar ´n Amerikaner wat vir een of ander rede die laaste 17 jaar in Oostenryk bly. Ek weet nie of sy probeer het om by die Amerikaanse toeriste in te pas nie, maar sy het soms nogal so ´n bietjie kruiperig oor Amerika tekere gegaan. Dit was bitter moeilik om die hele tyd vir haar te luister, maar sy het sulke interessante inligting gehad dat ´n mens maar moes oplet. Ek het ook gehoor hoe sy vir van die ander Amerikaners sê dat dit die begin van haar 3de maand op die bus is en hul opinie was dat sy regtig goed is!

Ek het so gehoop Chris sal die toer geniet (hy is nie so ´n groot Sound of Music aanhanger soos ek nie), maar Juffrou Gids het dit maar moeilik gemaak. O, en vir een of ander rede was ons nie in die regte bus wat hul gewoonlik gebruik nie, met ´n ander bestuurder en toe wou die CD-speler nie werk nie! Eers sowat halfpad het daar uiteindelik musiek begin speel.

Maar goed, ek het die toer steeds baie geniet en het nes Maria gevoel! Ons het verskeie plekke besoek waar die fliek verfilm is, maar ´n mens moet ingedagte hou dat geen van die plekke volledig gebruik is nie. Alles is geknip en geplak om op die ou end die plekke in die fliek te maak. So is die voorkant van die Leopoldskron-paleis bv. gebruik as die voorkant van die Von Trapp-gesin se huis en die kunsmatige meer (wat Leopold laat bou het oor hy ´n meer voor sy huis wou gehad het), was die meer waarop hul geroei het toe Captain Von Trapp en die Baroness daar aangekom het. Blykbaar het die Gretle amper verdrink met die verfilming!


Nog ´n paleis wat gebruik is vir die verfilming van die fliek, is die Hellbrunn-kasteel. Hierdie tuine is hoofsaaklik in die fliek gebruik en vandag staan die legendariese glashuisie waarin Ralph en Liesl, en ook later die Captain en Maria hul liefdesliedjies gesing het.


Ons het nie die Nunnberg Abbey waar die nonne was gesien nie, maar het darem daar verbygery. Juffrou Gids het ook vertel dat Robert Weiss (die regisseur) die aktrises wat nonne gespeel het, een van die misse by die Nunnberg Abbey laat bywoon het, sodat hul kan sien hoe dit werk. Hul het ook tyd saam met die nonne spandeer om te leer om soos hulle te loop, praat ens. Die komponiste van die musiek het ook met die nonne te doen gehad, veral om vas te stel hoe hulle sing en harmonieer.


Ons het toe uit die stad beweeg na die Salzkammergut-distrik, wat pragtige natuur met berge en mere is. Daar het ons rondgery, liedjies saamgesing en die ongelooflike uitsig waardeer. Die eerste tonele van die fliek (waar hul die berge wys net voor Maria begin sing) is in hierdie distrik verfilm. Wat Chris egter die meeste geïnteresseer het, was die feit dat Red Bull se hoofkantoor in hierdie distrik is. Ons het daarby verbygery en daar was ook ´n Nascar-motor met ´n nr. 63 daarop.


Vir my was die hoogtepunt van die toer die kerk in Mondsee. Vandat ek ´n klein dogtertjie was (my ma-hulle sal dit kan bevestig), was ek mal oor die kerk waarin die Captain en Maria getrou het. Ek het my verkyk aan die binnekant en die wonderlikste was dat Maria so lank in die paadjie afgeloop het en dan by die trappe op. Vir my het die plek massief gelyk! Ons het toe hierdie kerk besoek en alles is presies soos in die fliek, behalwe vir die tralies aan die agterkant waar die nonne agterbly en haar toesing. Dit lyk natuurlik ook vir my baie kleiner as in die fliek. Blykbaar het Julie Andrews so gesukkel om in die paadjie af te stap sonder om te lag, dat Robert Weiss vir die orrelis gevra het om ´n stuk musiek te speel waarop sy kan inloop. Die komponis van die fliek (net 1, want die ander is intussen dood) het so baie van die musiek gehou dat hy sy hele stuk herskryf het om daarby te pas!




Oppad terug het ons Do-Re-Mi gesing en ek het dit so baie geniet! Selfs Chris het soms saamgesing (hoofsaaklik omdat Juffrou Gids in die bus rondgeloop het en gekontroleer het dat almal deelneem)! Met die musiek in die agtergrond en die prentjie om my, het dit gevoel of ek deel van die storie is. Dit was heerlik! Juffrou Gids het darem ´n bietjie beïndruk gelyk dat ek AL die woorde ken! Aan die einde het ons natuurlik So long, farewell gesing en ons was maar te bly om weg van Juffrou Gids te kom.

Na die toer het ons so ´n bietjie verder in Salzburg gaan rondloop. Ons het deur die Mirabell-tuine geloop (nog filmtonele), oor die rivier na die ou stad toe. Daar het ons by ´n soort Octoberfest aangekom. Dit was die viering van St. Rupert (die man wat Salzburg begin het deur ´n kerk en klooster te vestig) en die hele stad hou dan lekker fees. Hul trek ook almal tradisionele drag aan en dit lyk so oulik! Ons het Stiegl-bier (pomelogeur) gedrink en Mozart-koegeln (sulke lekker sjokoladeballetjies, onseker oor spelling) geëet. Hierna het ons weer oor die rivier geloop en is bederf met ´n pragtige uitsig van die Alpe, die stad en die rivier.




Van Salzburg kan ek sê dat dit vir my verseker ´n plek is waarheen ek gaan terugkeer (en my ouers saamvat!). Dis in die mooiste deel van Europa, dit voel nie soos ´n stad nie (baie soos Potch) en die atmosfeer is wonderlik. Daar is ook so baie om te doen en die wonderlikste is dat daar regtig nie so baie toeriste is nie! Chris verkies steeds Interlaken en ek kan dit verstaan, want Interlaken het avontuursport, maar Salzburg het Mozart en Maria!

Ons moes na Wene vertrek omdat Lies en Jonas daar vir ons gewag het en het daarom so 16:00 se kant op die trein geklim. Dis ongeveer 3 ure na Wene. Ek en Chris het apart gery ter wille van spasie en ek het saam met ´n ouerige tannie van Oostenryk in ´n kompartement beland. Ons het so lekker gesels! Ek het haar vertel van Suid-Afrika (sy wou als weet) en dit was blykbaar vir haar baie lekker om Europa deur my oë te ervaar. Die beste deel was egter toe sy my oor my ervaring van die Vatikaanstad gevra het en ek haar toe vertel het waarom ek 'n Protestant en nie 'n Katoliek is nie. Sy het nogal geluister na wat ek te sê gehad het en het erken dat sy nog nie regtig so daaraan gedink het nie.

In Wene het Lies en Jonas ons op die stasie gekry en omdat hul al ´n dag of wat daar was, het ons hul sommer gevolg om ´n restourant te kry. Ons wou graag tradisionele schnitzel eet en ´n bietjie kuier. ´n Uur en ´n half later (steeds met ons rugsakke op ons rûe) het ons ´n oulike plekke gekry waar ons heerlik geëet het.


Teen die tyd wat ons hotel toe gegaan het, het ons amper die laaste bus en die ontvangsdame gemis! Gelukkig het ons darem ´n slaapplek vir die aand gehad!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten