zaterdag 18 september 2010

Dag 4: Hoog(s)stepunt in Switserland

Behalwe vir die lawwe klomp wat luidrugtig (vermoedelik) Switserse volksliedjies in die straat gesing het rondom 02:00 die oggend, het ons op Woensdag met nuwe energie opgespring. Chris het opsluit besluit dat hy sy begroting heeltemal wil verwoes deur te gaan parasail. Ek ken myself ten hierdie tyd al en weet as ek sulke goete aanpak, gaan ek weer met een of ander besering sit. Baie verstandig het ek dit toe maar gelos. Chris het gehoor dat hy 13:30 van die berg kan gaan afspring, en skielik het die dag te kort geword.


Ons sit toe na ontbyt dadelik af stasie toe om na die bergpiek (een van die 3 hoogstes in die Berner Oberland), naamlik Schilthorn, te gaan. Ons gawe maatjie, Tom by die hotel, het vir ons vouchers gegee waarmee ons 40% afslag vir die rit kon kry. Dit het Chris se begroting so ‘n klein bietjie gehelp. Van Interlaken is ons met die trein na Lauterbrunnen, toe met ‘n bus na Stechelberg en van daar met verskeie kabelkarretjies verder teen die berghange op.



Ons het verby die dorpies Gimmelwald en Murren gery, sowel as die halfwegstasie Brig. Ek weet nie presies hoekom my logika my in die steek gelaat het nie, maar vir een of ander rede het ek gedink dit gaan nie koud wees daarbo nie. Iemand moet my tog nog vertel dat sneeu nie net mooi is nie, maar ook koud! In elk geval, ek was te lig aangetrek vir die storie en het maar bebibberd die piek bereik.

Dit was wel elke hoendervleisie werd! Die uitsig is ONBESKRYFLIK! Vandaar kan ‘n mens die een van die hoogste bereikbare pieke van die Alpe, naamlik Jungfrau so mooi sien.




Chris het in die sneeu gaan rondhardloop en ek het met ysige vingers die landskap op film probeer vasvang.



Omdat dit ‘n goeie 50 minute neem om bo uit te kom, moes Chris maar weer dadelik afgaan om betyds vir sy springery te wees. Ek het egter besluit om by die restaurant agter te bly en het myself getrakteer op Switserse wyn, ham en kaas.



Die restaurant roteer 360 grade sodat jy vanuit die gemak van jou restaurantstoel die wêreld kan bespied. Schilthorn is ook die plek waar een van die 007-flieks verfilm is en die logo is op amper als daarbo aangebring.



Intussen het Chris by die hotel opgedaag met daardie regte soort seuntjieopgewondenheid – gereed om te vlieg. Die maatskappy het hom daar kom oplaai en n paar van hulle is daar weg.  Een van sy medespringmaatjies was ‘n Australiër en die bestuurder van die bussie ‘n Nieu-Seelander. Die drie het daarom natuurlik lekker begin rugby gesels en ek was agterna bly om nog ‘n rede by te voeg waarom ek liewer nie moes saamgaan nie (hehe). Wel, Chris en sy pilot het toe van die berg afgespring en gesweef tot onder in Interlaken. Dink net wat ‘n ongelooflike uitsig hy moes gehad het! Gelukkig het die maatskappy ‘n video en foto’s van sy wedervaringe verskaf.

Intussen het ek weer in Interlaken aangekom, waar dit aansienlik warmer was, en het die bekende paadjie langs die turkoois Aere-rivier hotel toe aangedurf. Na ons so paar minute platgelê het, het ons besluit om weer ‘n trein na Brienz te neem. Daar het ons maar weer langs die meer geloop en die uitsig waardeer waarna, ons ‘n ligte aandete by een van die hotelle gaan eet het. Ons besluit toe op die tradisionele Switserse rosti, maar die hoeveelheid uie daarin het vir Chris ‘n lekker groot maaltyd beteken. Teen 20:00 was ons terug by die hotel en Chris het dadelik gaan slaap. Al die vars lug was dalk een te veel vir hom (hehe). Ek het eers gaan foto’s aflaai en dit het LANK gevat! Heelwat later is ek bed toe met ‘n groot opgewondenheid oor Italië wat voorlê, maar ek het ook gewonder hoe enigiets die ervaring in Switserland kan oortref!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten