maandag 27 september 2010

Dag 11: Soete Salzburg

Iewers rondom 02:00 die oggend het een of ander alarm in die trein afgegaan en dit wou nie ophou skree nie! Chris was vas oortuig dat dit tyd is om op te staan en ten spyte van my pleidooie het hy steeds sy skoene aangetrek en uitgegaan. Toe dit wel tyd was om op te staan, was dit natuurlik nog donker buite in Wurgl waar ons van treine moes verwissel. Ons het min of meer saam met die son in Salzburg aangekom en toe maar eerste hotel toe gegaan.

Daar het ons vir ´n rukkie gerus en toe die pad gevat na die Mirabellplatz, waar ons Mozart-toer sou begin.  Hierdie plein is langs die baie bekende Mirabellplatz-tuine.



Ons was net so 5 op die toertjie (waarvan ek en Chris natuurlik die jongste was!) en ons toergids het ons in ´n bussie op ´n toer deur die stad geneem. Ons het verby interessante plekke soos ´n Marionetteater, Mozart se geboorteplek, die Salzburgkatedraal ens. gery. Ons het ook by Leopoldskron gestop, waar die mooiste tuine is! Hierdie was blykbaar die koning se kuierhuis gewees – ver van die stad af (in daardie tyd) om weg te kom van die mense (wat nie genooi was nie…) af.

´n Wonderlike ervaring was aan die einde van die toer toe ons by Mozart se woonhuis kon ingaan. Dit was waar hy as kind saam met sy ouers gebly het van 1773 tot 1780. Hul het die plek omskep in ´n interaktiewe museum, wat tegelyk antieke artefakte bevat, sowel as moderne byvoegings om die ervaring beter te maak, bv. ´n kort inligtingsfliek. Daar is bv. ´n skildery van die Mozart-gesin, met Wolfie, sy sussie sy ma (in ´n portret teen die muur omdat sy al dood was) en sy pa, wat blykbaar eers aan die einde ingevoeg is (antieke vorm van Photoshop!). Ons kon nie behoorlik deur die museum gaan nie, omdat ons nie genoeg tyd gehad het nie en daarom gaan ek volgende keer heel eerste daarheen!

Om 13:00 het ons aangemeld vir ons volgende toer, naamlik die Ysgrotte. Ek het nie presies geweet wat om te verwag nie, behalwe ys en wel…grotte. Ons was ´n redelike groot groep wat aan hierdie toer deelgeneem het. Ons is met ´n bus geneem na ´n kleiner dorpie ´n hele entjie uit die stad uit. Daar het ons ´n stywe 20min se stap gehad, natuurlik teen ´n gruwelike helling teen die berg op. Ons het toe ´n kabelkarretjie bereik, wat een die steilste in Europa is en dit het ons na ´n volgende vlak op die berg geneem. Vandaar moes ons ´n verdere 20min stap tot by die grot se bek en die keer was dit selfs nog steiler! Heeltemal natgesweet het ons bo uitgekom, maar is beloon met ´n pragtige uitsig. Net daar het ons weer besef: ons Suid-Afrikaners is maar inherent lief vir die natuur! Ons het ons lekker warm baadjies aangetrek en is toe die grot in.






Die eerste vreemde ding was die vreeslike wind wat uit die bek van die grot kom, blykbaar iets soos 80-100km/h! Dit was ysig koud! Die gids het ons in die grot gelei en ons het 700 trappe geklim tot ons bo uitgekom het. Teen daardie tyd was Chris se baadjie uit van die warmte so tussen die ys! Daar is pragtige stalagmiete en stalagtiete van ys in die grot en blykbaar verander dit elke jaar soos nuwe water inkom. Aan die bo-punt was daar regtig ´n paar besondere mooi ysstalagmiete. Op daardie punt was ons ongeveer 1km ver van die grot se bek af en al is die grotte 46km lank, is die ysdeel net die eerste 1km – dus die deel wat ons gesien het.

Een van die vreemdste goed wat ons gesien het oppad boontoe, was ´n groot kleipot wat daar gestaan het. Dit is die as van die eerste ontdekker van die grot! Hy het blykbaar gevra dat hy graag in die grotte begrawe wil word en vandag loop al die besoekers verby sy as… Wat dit selfs nog meer spookagtig maak, is die feit dat slegs magnesiumstokkies deur die gidse gebruik word om lig te maak, sodat alles so natuurlik moontlik moet lyk.

Die pad terug was aansienlik makliker, want alhoewel dit ook 700 trappe was, was dit darem afdraande. Ons het deur ystonnels geloop en selfs nog groter ysstalagmiete gesien. Die gids het ons ook toegelaat om foto´s te neem, wat volgens ons toergids NOOIT gebeur nie. Dis bietjie moeilik om in sulke swak lig sulke groot stukke wit af te neem, maar dit was ´n lekker manier om ´n klomp funksies van my kamera te toets.



Nadat ons weer deur die kwaai wind geloop het, was dit so warm buite dat dit moeilik was om te dink ons het net ´n paar minute vantevore koud gekry! Ons het die bergpad weer aangedurf en dit het aansienlik vinniger gegaan, hoofsaaklik om die die helling BAIE steil is! By die kabelkarretjie het ons eers gesit en ´n Stiegl-biertjie (Salzburg se bier) gedrink en tradisionele apfelstrudel geëet. Chris het natuurlik Coke gedrink.

Ons het teen donker terug in Salzburg gekom en is dadelik terug hotel toe. Ek was baie moeg na die min slaap die vorige nag en die rowwe dag, en het besluit om maar baie vroeg in te kruip. Teen 20:30 was ek vas aan die slaap!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten