Alhoewel dit 'n halfuur neem om met die bus en metro in die middestad te kom, was die hostel waar ons in Wene geslaap het op 'n lieflike plek geleë. Dit is bo teen Wilhelminaberg met 'n pragtige uitsig oor die stad en groot grasperke. So 'n klein stukkie landelikheid tussen die stadsrumoer.
Ons het die vorige aand met Liesbeth en Jonas ooreengekom om hul buite die Hofburgpaleis te ontmoet. Lies het baie kwaai gelyk toe sy gesê het ons moet betyds wees, maar toe was sy en Jonas laat! In elk geval, ons was vir die grootste deel van die oggend in die Hofburgpaleis. Ons het 'n gesamentlike kaartjie gekoop om 3 uitstallings te sien.
Die eerste uitstalling was van die kombuisware wat in die Hofburg gebruik is. Net voor die val van die monargie, was daar ongeveer 5000 mense deel van die Hofburghuishouding. As ek reg verstaan was dit nie net die familie nie, maar ook die knegte en ander lede van die stadsbevolking. Daar is derduisende messe, vurke, borde, tafelversierings ens. Van die stelle was net 1 keer gebruik. Daar is ook van die stelle wat nie uitgestal kan word nie, omdat die konings dit in tye van oorlog moes smelt om munte van te maak. Dis alles baie wonderlik, maar net 'n bietjie te veel. O ja, 'n mens mag geen foto's in die museums geneem het nie en alhoewel ek soms 'n kans vat, was daar heeltemal te veel museumsekuriteitsmannetjies wat oral diens doen.
Die volgende uitstalling was verseker iets om te onthou. Dit was 'n uitstalling wat heeltemal gewy is aan Koningin Elizabeth van Bavaria, die vrou van Franz Josef die 2de. Haar bynaam was Sisi. Lies het amper op haar rug geval toe sy hoor ek weet nie wie Sisi is nie, maar nou ja, in SA leer ons nie soveel detail van Europese geskiedenis nie. Dit was egter nogsteeds baie leersaam en boeiend. Sy was (soos al die ander) bitter jonk (16) toe sy getroud is en Frans Josef was haar neef. Sy het ook nie baie goed aangepas by die etiket van koninklike lewe en moes op 'n stadium iewers heen gaan vir 'n paar maande vir siekverlof. Sy het haar oudste dogtertjie verloor toe laasgenoemde so 2 jaar oud was en dit het haar geruk. Sy het interessante geskiedenis van depressie ens. Dinge het regtig vir haar begin agteruitgaan toe haar enigste seun selfmoord gepleeg het. Deel van die uitstalling was ook portrette van haar (met hare tot op die grond, waaraan sy 3 ure per dag spandeer het) en van haar rokke. Sy was so maer gewees! Haar middeltjie was iets soos 20 of 30cm in omtrek. Sy het ook haar eie antieke gym in haar kamer gehad en was obsessief met oefening. Sy het ook baie perd gery en gaan stap.
Die 3de uitstalling was die kamers van Sisi en haar man, koning Franz Josef II. Franz het elke oggend 03:30 opgestaan om te begin werk en hy was baie erg oor sy land en sy gesin. Daar is 'n lewensgrootte portret van Sisi voor sy lessenaar. Toe Sisi vermoor is, was sy enigste kommentaar dat niemand ooit geweet het presies hoe lief hy vir haar was nie.
Na die Hofburgbesoek het ons besluit om in verskillende rigtings te gaan. Ek wou die Operahuis sien en Chris die Kunshistoriese museum. Ons het ooreengekom om mekaar weer die aand by die Volksoper te ontmoet. Ek, Lies en Jonas sit toe af Operahuis toe. Daar aangekom was daar oral mannetjies in outydse kleertjies wat konsertkaartjies aan 'n mens probeer verkoop. Tot my groot teleurstelling is die Staatsoper net op Sondae oop vir besigtiging. Ons het toe maar gaan sit om iets te eet en ek het die rooiste kersiestrudel gehad!
Daarna het ons in die stad gaan rondloop en dis pragtig. Ons het op 'n monument vir Mozart afgekom, by 'n grasperk waarvan die blommetjies 'n G-sleutel gevorm het.
Jonas en Lies het my toe na die Weense Mozartmuseum geneem en hul het na die Skotse area gegaan. Die grootste verskil tussen die Mozarthuise in Wene en Salzburg is dat die een in Salzburg fokus op Mozart as kind en die Weense huis op sy werk as volwassene klem lê. Die museum in Salzburg het ook meer artefakte. In Wene is daar meer geskiedenis om te lees. Daar word ook aandag gegee aan Mozart se liefde vir vroue, maar nie soveel van sy verhouding met sy pa nie. Dit was nogal 'n interessante gevoel om daar te staan en te weet Mozart het daar gebly. Wel, hy het nou nie die hele tyd daar gebly nie, maar dit was sy huis toe hy op sy rykste was. Die fliek Amadeus het die hele tyd in my agterkop gespeel terwyl ek daar geloop het.
Na hierdie besoek was ek baie vaak. Ek het besluit om 'n uur se slaap te probeer inkry sodat ek die aand se opera in die Volksoper kan geniet. Ek het met Chris afgespreek om hom iewers tussen 18:00 en 18:30 by die Volksoper te ontmoet. Ons het vroeër die dag gesien dat die metro na die Volksteater gaan en ek het presies om 18:30 daar opgedaag. Toe ek egter daar aankom, het hulle vir my gesê dit is nie die Volksoper nie en dat ek nog 2 metros sal moet neem om daar te kom. Dit was omtrent 'n geskarrel! Ek het 18:55 by die teater opgedaag en by die eerste beskikbare deur ingehardloop, maar dit was die kunstenaars se deur... Op die ou end het ek met 'n groot gesukkel my kaartjie in die hande gekry en het 1 minuut na die konsert begin het by die teater self ingeloop. Na pouse kon ek darem weer by Chris gaan sit. Alhoewel hy eers niks gesê het nie, het ek darem later uitgevind dat hy dieselfde fout gemaak het, maar dat hy vroeër as ek daar was en daarom betyds was.
Die opera was regtig baie lekker! Dis 'n kleiner teater as die Puk se ouditorium, maar oral met rooi mat uitgevoer. Omdat dit Tosca van Puccini was, het ek aangeneem dat die opera Italiaans sal wees, maar dit was wel Duits. Ek het nie vooraf die storie gelees nie, maar ek is nogal bly dat ek nie het nie. Dit het musiek kans gegee om die storie te vertel en dit, meer as enigiets anders, het die aand gemaak.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten