Ons 2de dag in Florence het met 'n groot teleurstelling vir Chris begin. Ons hotel het 'n ordentlike Engelse ontbyt ontbyt aangebied en Chris kon nie wag om sy tande in 'n stuk vleis te sink nie (ons leef hoofsaaklik hier van brood en croissants!). Hy is selfs 10 minute voor my by die kamer uit om solank te gaan wegval. Teen die tyd wat ek by die hysbak kom het 'n baie bekaf gesig my begroet: blykbaar begin die hotel eers ontbyt bedien teen die tyd dat ons by die stasie moet wees! Op my vraag waarom so laat, het hul gesê dat die mense daar eers so van 09:30 af opstaan en daarom is ontbyt eers 08:30. Belaglik! Ons moes toe daarom maar weer 'n ou croissantjie by die kafee oorkant die pad kry.
Ons het 'n bespreekte toer “Tuscany in one day sightseeing tour” gehad en het by die stasie op die toerbus geklim. Die hele bus was vol (seker omtrent 60 mense, waarvan die meeste maar ouerig was). Ons het 'n baie oulike Italiaanse gids gehad en ek het haar aksent vreeslik geniet. Ons het deur Florence gery en sy het van die geboue uitgewys en vir ons die verhaal van die Medici-familie vertel.
Ons eerste besoekpunt was die heuwelstad (bo-op 'n heuwel - 'n mens moet 5 stelle hysbakke ry van onder in die parkeerarea tot bo by die plein), Siena. Daar het ons 'n stadsgids gekry en op 'n toer deur die stad gegaan. Van die hoogtepunte was die katedraal (met swart en wit marmer wat baie aan 'n sebra herinner) en die groot stadsplein wat amper in die vorm van 'n amfiteater gebou
Die interessantste was die storie van Paleo. Dit is 'n Sienese tradisie wat al meer as 600 jaar gevolg word. Paleo is 'n soort perderesies wat jaarliks op die 2de Julie en die 16de Augustus plaasvind. Geen weddenskappe word toegelaat nie, maar omkopery is blykbaar 'n moet.
Maar eers moet ek dit verduidelik. Die stad word nogal baie soos die PUK se studentelewe bestuur. Daar is 17 streke (contrade) en elke contrade het sy eie tradisies, regering ens. Daar is natuurlik 'n sentrale regering, maar hierdie stelsel laat elke wyk sosiaal en ekonomies na homself kyk. Elke contrade is vernoem na 'n dier en jy bly van geboorte af in daardie streek. As jy as 'n Haas gebore is en jy trou met 'n Ruspe en julle bly in Skilpad, bly jy 'n Haas, jou eggenoot 'n Ruspe en julle kinders is Skilpaaie. Sandra (ons toergids) het verduidelik dat jy 'n ware Sienees moet wees om dit werklik te verstaan en waardeer.
Nou ja, Paleo word gehou tussen die verskillende streke, in die middel van die stadsplein. Sand word gegooi waar die perde moet hardloop, joggies word gehuur en die voorbereiding neem 'n hele jaar. Dis amper so erg soos met sêr! Die perde word agter slot en grendel toegesluit voor die kompetisie en 'n wag pas hul op. Die oggend van die Paleo word die perd en joggie na die contrade se kerk geneem om deur die priester geseën te word. Die hele resies duur sowat 'n minuut en 'n half en toe ons na die video daarvan in die bus kyk, was ek en Chris verstom oor die mense se passie daarvoor. Oorwinning word met optogte deur die contrades gevier en die verloorders huil hul dood!
In elk geval, van Siena af is ons na 'n wynplaas in die beroemde Chianti-distrik. Ons is op 'n vinnige toer deur die plaas se werkinge geneem en dit was lekker om weer regte grond onder my skoene te hê.
Daarna het ons 'n tradisionele Italiaanse middagete geniet op 'n terras met die ongelooflikste uitsig! Die middagete het bestaan uit broschette (broodjie) met olyfolie en 'n soort knoffelsout, pasta met bolognaise-sous, salami en ham, pecorino-kaas, slaai en laastens biscotti-koekies in dessertwyn gedoop. Dit alles is vergesel met 3 verskillende wyne. ALLES, behalwe die kaas, is op die plaas self gekweek en gemaak. Dit was verseker die lekkerste maal wat ek in 'n lang tyd geëet het! Ons was so 8 mense aan ons tafel en ons het sommer gou maats gemaak met die 3 paartjies uit onderskeidelik Brasilië, Londen en Iowa (VSA). Die paartjie van Iowa is op hul wittebrood en ons het sommer baie goed oor die weg gekom.
Oorversadig en gewyn het ons vertrek na San Gimignano, 'n klein dorpie in die hartjie van die Toskaanse streek en so 10 minute se ry van die plaas af.
Alle drome en romantiese prentjies wat 'n mens nog ooit van Italië gehad het, word waar in San Gimignano. Dis ook 'n heuwelstad soos Siena, maar kleiner. Die straatjies is nou, krom, meestal opdraande, met klippe uitgelê en die geboue is baie na aan mekaar. Wasgoed hang aan wasgoedlyne hoog bo die strate en oral loop mense en Italiaanse roomys eet. Ons het ook...die amptelike wêreldkampioen roomysmaker is immers daar! Ons het vinnig by die kerk ingeloer (kleiner as Siena, maar ook sebraerig en mooi), die heuwel uitgestap vir 'n uitsig oor die stad en Toskana en ons teruggehaas tussen die netwerk van straatjies na die bus aan die onderkant van die heuwel.
Hierna was daar darem 'n uur en 'n half tot in Pisa en al wou ek wakker bly en die omgewing bewonder, het die middagete en wyn aangedring op 'n siesta. Die gids het opgehou praat en ons het die kronkelpaadjie Pisa toe aangepak. Die weer het die hele dag al gedreig om die dag te bederf en in Pisa is ons toe inderdaad met reën begroet. Nou ja, nie regtig reën soos in Suid-Afrika nie, maar eerder 'n sagte drupperigheid. Maar, die toring was steeds mooi sigbaar en 'n mens weet dat dit skeef is, maar om dit te sien is iets heeltemal anders. Dis asof jy dit dan eers regtig kan glo!
Ek en Chris het 'n afspraak gehad (ja, jy moet 'n afspraak maak omdat min mense op 'n slag toegelaat word) om die toring van Pisa om 18:00 uit te klim. Ons Iowa-maatjies (teen hierdie tyd het ons vasgestel dat hulle Jason en Katie heet) het ook 'n afspraak gehad en ons het saam in die ry gaan staan. Om die toring te klim was vreeslik vreemd. Omdat dit skeef is, voel dit soms of jy af loop wanneer jy eintlik op loop en mens val gedurig teen die skewe mure. Tog was dit heel mooi bo en nou kan ek ook sê dat ek die toring van Pisa geklim het!
Sandra het vertel dat die kerk eintlik ook skeef is omdat die fondasie onder wegval, maar min mense glo dit. Ons het gaan ondersoek instel en ja, dit is so. Dis nie so duidelik soos die toring nie, maar wel sigbaar.
Die pad terug Florence toe was so 'n uur en 'n half en dit was reeds donker toe ons so rondom 20:00 in Florence aankom. Ek en Chris wou weer by die vorige aand se restourant gaan eet (hul pryse is billik), maar die keer sommer net pizza. Omdat ons vir Iowa vroeër die dag daarvan vertel het, het ons hul sommer saamgenooi. Saam het ons deur die straatjies en piazzas (pleine) gesoek en dit uiteindelik gekry. Dit het omtrent in 'n lekker gekuier ontaard! Daar waar hulle in Iowa bly, is 'n landboustreek waar daar veral met mielies geboer word. Jason werk ook iewers in daardie industrie. Die snaaksste was dat ons tog te lekker John Deere gesels het! Blykbaar is die reël daar ook dat dit nie 'n trekker genoem kan word as dit nie groen is nie... Toe ek hulle vertel van my pa se trekkerversameling en Johan se horlosie ens. was hul stomgeslaan. (Ek sal Pa later als vertel, maar dit was nogal cool!)
Aan die einde van die aand was die pad hotel toe maar lank en ons het doodmoeg in die bed geval. Die dag het regtig my verwagtinge oortref en Toskana is verseker 'n area waarheen ek sal wil terugkeer.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten