donderdag 23 september 2010

Dag 10: Vertrek uit Venesie

Chris het amper 12 ure die vorige nag geslaap en was heel uitgerus op ons 2de dag in Venesie.  Ek was nie so gelukkig nie.  Boonop het ek my wekker vir 'n uur te vroeg gestel en eers nadat Chris vir my gegrom het, het ek besef dis te vroeg!

Na 'n HEERLIKE ontbyt (steeds geen spek en eiers nie) het ons afgesit water se kant toe om op ons toer na die eilande te gaan.  Daar aangekom het ons weer vir Iowa raakgeloop!  Wat 'n lekker verrassing!  Ek het vir Jason van die toer vertel in Florence en hy het dit toe wraggies ook gaan bespreek.


Dit was egter 'n uitgebreide Iowa, want Jason se broer, David, en sy vrou, Madelin, het vir hul in Venesie kom kuier.


Die 6 van ons het sommer uit die staanspoor die toer saam aangepak.  Ons het in 'n motorboot geklim en vertrek na 3 van Venesie se bekendste eilande.

Ons gids het in Engels, Duits, Italiaans, Frans en Spaans gepraat, maar ek kon niks daarvan uitmaak nie!  Deels omdat die boot so geraas het, en deels omdat haar aksent horribaal was!  Die eerste eiland waarby ons gestop het was Murano.  Hierdie eiland is bekend vir die tradisionele glasblasery.  Ons het net 40 minute daar gehad, wat 'n besoek aan 'n fabriek ingesluit het.  Dit was ongelooflik om te sien!  Die 2 mans was besig om 'n glasbal vir 'n kandelaar te maak.  Hul smelt die glas in 'n super warm oond en hou dit aan die end van 'n pyp.  Dan blaas hulle aan die ander kant van die pyp om die bal te vorm.  Chris het lekker vir my gelag, want ek het gedink glasblasery beteken dis soos "sandblasting".  Ek het nie geweet hul vorm die goed met die blasery nie!  Na die vinnige voorstelling is ons na die geskenkwinkel waar die mooiste glasware te koop is.  Die eintlike bederf was op die boonste vloer.  Dis seker 4 keer so groot soos die geskenkwinkel en daar is piepklein ornamentjies en lewensgrootte standbeelde, in die mooiste kleure!  Geen foto's daarvan was egter toegelaat nie.




Die volgende eiland was Torcello.  Hierdie eiland is die oudste van die Venesiese eilande en het ook die oudste kerk.  Dis pragtig!  Die ideale klein kerkie vir 'n troue!  Dis ook so lekker rustig en stil daar en dit was 'n heerlike kontras met die malende hoofeiland, Venesie.



Die 3de eiland was Burano.  Burano is bekend vir kant.  Hul het baie jare gelede een of ander steek ontwikkel wat die maak van kant gerevolusioneer het.  Ons is vinnig na 'n winkeltjie toe daar en het gesien hoe 'n stokou tannietjie sit en kant maak.  Te oulik!  Daar is allerhande mooi goed, soos tafeldoeke en dooprokkies vir babas.




Na die toer het ons gou die kerk op die plein besoek en toe besluit om maar weer in die hotel te gaan wegkruip.  Dis net heeltemal te besig in die strate na ons sin!  Ek het maar gesit en 4 dae se blogging ingehaal en Chris het vir ons 'n restourant van die aand gaan soek (ons het Iowas saamgenooi vir ete).

Teen 18:30 het ons dit weer in die strate gewaag en na St. Markusplein gegaan.  Die duiwe daar is omtrent 'n gesig!  Hul is so mak dat mense oral staan en foto's neem met duiwe op hul vingers.  Ons het ook oor die bekende Rialtobrug gaan loop en 'n bietjie in die klein straatjies rondgedwaal.




Daarna het ons Iowa gekry en na 'n oulike restourant gegaan.  Die sjef daar gaan blykbaar elke oggend mark toe en kies die varsste en beste produkte.  (Hul bedien ook glad nie pizza nie!) Wat 'n lekker ervaring! Ons het besluit om seekos te eet (soos die plan die vorige aand was). Daar was interessante goed soos krappies wat in ´n degie gebraai is en ´n soort plaaslike steurgarnaal wat saam met mintblare geëet word.  Ons en die Iowas het almal verskillende disse bestel en gedeel sodat almal alles kon proe. Hierdie ete het ´n lekker gat in ons sakke gemaak, maar dit was verseker die beste deel van Venesië.



Na ete het ons gou teruggegaan hotel toe om ons sakke te kry.  Ons is weer op ´n vaporetti terug stasie toe (Iowa het op ´n watertaxi verby ons gejaag!) en daar het ons die nagtrein wat ons na Salzburg moes vat, gehaal.  Ek en Chris het in ´n kompartement met 6 beddens geslaap en het die kamer gedeel met 2 Duitsers wat oor die Alpe met hul fietse gery het.  Die snaaksste was dat die Iowas se kompartement net langs ons s´n was en ons kon toe darem nog behoorlik totsiens sê. 

Om op te som is ek bly dat ek Venesië was, maar dis nie ´n plek waarheen ek sommer gou weer sal gaan nie.  Alles is baie duur en daar is heeltemal te veel mense na my sin.  Dit bederf die idilliese prentjie wat ´n mens nog altyd gehad het, so ´n bietjie.

1 opmerking:

  1. Jis my friend!!!! dit lyk ongelooflik lekker!!! eks sommer super jaloers!!! wanneer het jy nou weer gese gan julle Austria toe?!?!? ASB neem sooo baie fodies!!
    Ag, geniet dit net so baie...jy verdien dit!
    Mis jou tjomma! en groete vir Chris

    BeantwoordenVerwijderen