Lies het baie klem daarop geplaas dat ons moet weet treine wag nie vir ons nie en ons is daarom VROEG Sondagogggend uit die vere gejaag! Ons het die vinnige Thalystrein na Parys gehaal en met ons aankoms was ek nie juis so beindruk nie. Dit het gereën en alles was vaal. Ook, die kindertjies in Europa kry nie papier by Kersvader vir Kersfees nie en dan skryf hul maar op elke muur moontlik, spesifiek op mure langs die trein.
Dit was 'n groot gesukkel om ons hotel te kry. Rigter (my GPS) wou niks weet van 'n sateliet opspoor nie. Na ons 'n lang ruk in die grys weer rondgewandel het en elke tweede persoon gevra het - eers of hul Engels praat en dan of hul die pad na ons hotel kan verduidelik, het ons wel ons hotel opgespoor.
Daar aangekom het ons ons sakke afgelaai en afgesit stasie toe om na Versailles te gaan (ons het gelees dat Versailles op Maandae toe is en moes daarom toe al Sondag gaan). Parys se metrosisteem is redelik maklik om te verstaan omdat al die verskillende lyne nommers en kleure het. Waarmee mens egter moet rekening hou, is dat die treine in 2 rigtings gaan en alhoewel jy op die regte lyn kan beland, dit steeds na die verkeerde kant kan gaan! Natuurlik moes ons dit op die harde manier leer. Ons het op 'n stasie buite Parys se sone 1 geland en het omtrent gesukkel om weer terug te gaan! Gelukkig kon ons 'n tannie opspoor wat Engels verstaan en sy het ons verduidelik hoe om weer terug in die stad te kom. Op die ou end het ons omtrent eers na 3 in Versailles aangekom.
Chris het niks van die paleis gehou nie. Vir om was daar heeltemal te veel goud. Hy het 'n punt beet: die klomp adelike konings van toenterentyd wou mos wys hoe ryk hul is en elke liewe detail van die enorme paleis en tuine is in detail uitgele, geverf of met goud omring. As 'n mens s daarna staan en kyk kan jy verstaan hoekom die volk so moeilik was. Die weelde is om van naar te word! Nogtans was dit 'n besondere ervaring om in so 'n geskiedkundige gebou te staan.
Nog 'n ding wat gepla het, is dat hul besluit het om die paleis vir 'n kunsgalery te gebruik en daar was 'n uitstalling van wat Chris "Snapsnese speelgoed op steroids" genoem het. Die plastiekblomme en poppe en goeters het glad nie by die res van die artefakte gepas nie! O ja, 'n les wat ons geleer het, was om spore te maak as 'n Sjinese toergroep hul opwagting maak, want met hul in die omgewing beweeg 'n mens BAIE stadig!
Vanaf Versailles het ons terug na Parys gegaan en by die Eiffeltoring se stasie afgeklim. 'n Mens weet presies hoe dit lyk, maar totdat jy nie onder dit staan nie kan jy nie begryp hoe 'n groot struktuur dit is nie! Dis ENORM!
By die suidelike poot het ons vir Matt, ons toergids met 'n sebrahoed gekry. Ons het op 'n Fat Tire Bike Night Tour gegaan. Ek kon na baie jare se gebrek aan oefening jou wrintiewaar toe nog fiets ry!
Dit was 'n ongelooflike ervaring! 25km in Parys op 'n fiets is iets wat ek verseker sal aanbeveel. Ons het by die Notre Dame katedraal gestop, roomys geeet op 'n brug wat oor die Seinerivier gaan (die lekkerste roomys OOIT) en oral die mooiste geboue gesien. Parys is werklik 'n romantiese stad, wel, ek neem so aan, want oral op die brue staan paartjies ineengestrengel!
'n Besondere oomblik was toe ons die geboukompleks van die Louvre museum binnegery het. Daar was amper geen mense nie en in 'n gang het iemand gestaan en klarinet speel. Die liggies, die musiek en die glasstrukture tussen die ou geboue was absoluut magic!
Vandaar het ons na die rivier gegaan en op 'n boot geklim. Met 'n komplimentere glas rooiwyn in die hand en die Eiffel se liggies wat tussen al die ander glinster, was dit 'n lieflike ervaring. Elke uur is daar 'n liggieskouspel wanneer die Eiffel se liggies begin flikker en ronddans. Net jammer so iets kan nie op 'n foto vasgevang word nie.
Uitgeput, maar opgewonde en tevrede het ons weer die metro terug na die stasie geneem en ongeveer 00:30 tot ruste gekom.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten