zaterdag 18 september 2010

Dag 3: Indrukwekkende Interlaken

Ek is nie seker presies wat ek verwag het Switserland gaan wees nie. Maar ek moet erken, ek het verseker nie verwag dat dit so ongelooflik wonderlik sou wees nie! Ek meen, ek het geweet die Alpe groei daar (hie-hie) en dat ons platteland toe gaan, maar die ervaring daar was soveel meer gewees!

Ons was natuurlik weer getrou betyds vir ons trein van Parys af en moes ‘n paar keer meer treine verwissel as wat ons verwag het. Oppad het die Alpe met wit pieke voor ons gelê – pragtig! In Interlaken aangekom was die eerste ding wat my opgeval het, die heerlike vars lug. So salig soel, asof jy vir ‘n oomblik ‘n suurstofmasker gedra het. Interlaken is die hoofdorpie van die Berner Oberland, die streek met die hoogste bergpieke. Dit word Interlaken genoem omdat dit lê tussen 2 mere, naamlik die Brienz- en die Thunmeer. Die Aere-rivier, die langste in Switserland, vloei daardeur en dis die mooiste turkoois kleur! Ons het in ‘n backpackers lodge geslaap en het heerlik met die klomp jongmense wat daar werk gekuier. Hulle sê darem dat hul nog altyd net beïndruk was met Suid-Afrikaners – ons is glo vreeslik gaaf!



Ons eerste missie was om met die ferry op die Brienz-meer te gaan vaar. Die uitsig oor die berge met die blou meer en pikante dorpies langs die kant was, soos Chris sê, mooier as ‘n prentjie! Die laaste dorpie waar die boot aandoen, is Brienz. Daar het ons afgeklim en na die toeristekantoor gegaan om te gaan uitvind presies wat mens nou eintlik daar kan doen. Blykbaar is Brienz beroemd vir die pragtige houtwerk wat daar gedoen word. En met rede! Die huisies, veral in die ouer deel van die dorp, lyk net soos Heidi-huisies met die mooiste houtwerk!



Hulle maak ook die mooiste ornamente en koe-koe-horlosies! Daar is ook winkels wat spesialiseer in kerstonele.



Ons het ons verkyk aan die sprokiesprentjie van die houthuisies met die berge, watervalle en meer om ons. Aan die bo-punt van die dorp is ‘n mooi klipkerkie en toe ons om dit loop, word ons bederf met die mooiste uitsig waarvan enigiemand kan droom!



‘n Foto kan dit probeer vasvang, maar die ervaring kan net in ‘n mens se eie geheue voortleef. In elk geval, ons het agtergekom dat die plekkie glad nie so erg deur toeriste geraak word nie en dat dit werklik ‘n klein stukkie onontdekte hemel is. Chris gaan vir hom met sy spaar- en spandeerplan ‘n vakansiehuis daar koop en elke jaar soontoe gaan. Ek sal maar gaan kuier…



Ons het tot vroegaand daar gesit en toe langs die meer af gewandel na die treinstasie toe – die laaste boot het lankal reeds vertrek.





Die treinroete van Brienz terug na Interlaken word die Golden Panorama genoem omdat dit langs een van Switserland se mooiste roetes ry. Wat ‘n gesig! Skemer in die Alpe…Die mooiste was toe ons terug hotel toe gestap het.  Ons het so 'n roete uitgewerk waar ons al die pad langs die rivier stap.  So mooi!





Terug by die hotel het ons na ons kamer gegaan en daarna afgesit dorp toe om by ‘n Switserse restaurant kaasfondue te gaan eet. Heerlik!

Uitgeput, maar tevrede het ons later ons eerste dag in Switserland afgesluit.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten