dinsdag 21 september 2010

Dag 7: Antieke Rome

Ons 7de dag het ietwat op die verkeerde voet weggespring. Volgens my boekie moes on 08:10 na Rome vertrek, maar toe ek op die stasie kom het ek ontdek die kaartjie wat Lies vir my gekry het, is vir 07:00. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar ons is toe eers 'n halfuur (en 20 Euro!) later weg Rome toe.

Daar aangekom het ons eers on hotel gaan soek. Dit was darem maklik om te kry en toe ons daar aankom was ons verras oor die oulike Italiaanse plekkie. Ons het ons sakke daar gelos en die strate ingevaar om kos te gaan soek. Op die hoek was 'n oulike kafee wat pizza per gram verkoop en dit was van die lekkerste pizza nog! Vandaar het ons die tog aangepak na die Piazza Novona, waar ons middagtoer sou begin. Alhoewel Rome so 'n groot toeristestad is, is die openbare vervoerstelsel nie so goed nie. Daar is net 2 treinlyne en nie 1 lei na die antieke stad nie. Dis 'n goeie 2 km se loop, maar ook heerlik om so in die stad rond te loop.

Die eerste punt van ons toer was die Piazza Novona, waar die Fontein van 4 Riviere is. Die hele Rome se fonteinstelsel maak gebruik van 'n “aqua duct” (as ek nou reg is) en jy kan by al die fonteine en kraantjies water drink. Die water is heerlik vars en koel. Hierdie fontein is ook die een waar die laaste kardinaal in Angels and Demons amper vermoor is.



Ons gids vir die toer is 'n argeoloog wat in Rome gestudeer het en daar werk en dit was nogal lekker om in haar kennis te kon deel.

Ons volgende punt was die Pantheon. Natuurlik is daar ook konstruksie gewees, so ek kon nie mooi foto's neem nie. Dis egter nogal 'n indrukwekkende gebou! Hier het dit egter begin reën en ek kon nie meer foto's neem sonder dat my kamera se lens nat word nie. Viviana (toergids) het ons verder deur Rome geneem, ook na die Trevi-fontein. Dis die laagste punt van die aqua duct en daarom spuit dit die sterktste. Ongelooflik! Maar, natuurlik gepak met toeriste en 'n mens kan skaars om jou sien!


Teen die tyd dat ons by die Roman Forum gekom het, was ek al deeglik nat en glad beïndruk nie. Boonop was ek al lekker moeg! Gelukkig het ek agtergekom Chris sit ook elke keer wanneer daar 'n geleentheid is sit, wat beteken dat hy darem ook moeg was. Die Roman Forum was werklik interessant. Dit het opgehou reën en ek kon foto's neem van die eertydse middelpunt van die wêreld. Dis ongelooflik om te dink dat Julius Caeser en soveel ander eenmaal daardie straatjies bewandel het. Hul is tans besig met opgrawings en volgens Viviana kon hul al vasstel dat daar 9 verskillende Romes is – die een op die ander gebou.






Die toer het na die Forum by die Colosseum geëindig en dit was nogal 'n belewenis om te sien. Ek het net die hele tyd Asterix and Obelix in my agterkop gehad, en het die verhale van die gladiators baie geniet.






Na die Colosseum was ons baie moeg. 'n Taxi het ons hotel toe geneem en ons het deelgeneem aan 'n Italiaanse gebruik, naamlik siesta. Dit beteken dat jy namiddag gaan rus en eers weer op straat kom rondom 17:00. Goed, ons het eers 17:00 gaan rus, maar dit het baie gehelp. Dis bitter warm en ek kan verstaan waarom mense nie in die middag wil werk nie. Teen 19:00 het ons weer ons energie half teruggehad en het daarom besluit om maar te gaan wasgoed. Sulke irriterende goed moet steeds gebeur, al hou jy so lekker vakansie! Oppad soontoe het ons by McDonals gestop. Ek het gedink Chris spot toe hy sê dat ons McDonalds in Rome moet eet omdat ons so lekker in Florence geëet het, maar op die ou end was dit wel al wat ons kon bekostig! Daar was darem so 'n nuwe Italiaanse soort burger met mozzerellakaas en 'n kruiebroodjie. 2 ure later was ons terug in die hotel en het besluit om maar vroeg in te kruip.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten