zaterdag 30 oktober 2010

Allerhande dinge in Antwerpen

Donderdag wat verby is, het ek en 'n paar van my mede-M-studente 'n biertjie by 'n Belgiese pub gaan drink.  Ons was op die ou end net 4 - die meeste ander het ander verpligtinge gehad.  Ons was ek, Jan Jorissen ('n Belg wat 'n M doen en 'n onderwyser in Engels gaan word), Donata (uit Luthuania) en Inge ('n Belg).  Ek was aanvanklik 'n klein bietjie skrikkerig, maar dit was op die ou end net 'n lekker rustige aand en ons het so lekker gekuier!  Ek, Jan en Inge het later 'n pizzaplek ook gaan opsoek.

Donata en Jan (Jan is bietjie kamerasku - maar minder as Chris moet ek sê!)

Inge (sy was in 'n motorongeluk toe sy 2 was en is verlam sedertdien)



Vandag is Saterdag en ek het besluit dat ek 'n bietjie rugby gaan kyk.  Dis iets wat ek na alle waarskynlikheid nooit by die huis sou doen nie, maar ek het gedink 'n klomp juigende Afrikaners op TV sal my goed doen.  Ek het daarom weer na die Irish pub gegaan waar ek en Charlotte verlede naweek gesit en wag het.  Daar was net 3 ander mense wat ook rugby gekyk het, maar hul het 'n sterk Britse Engels gepraat en ek neem daarom aan hul is nie Suid-Afrikaners nie.  Ek het van die pub se lekker pampoensop geëet en lekker gelag vir hul Halloween-versierings.  Teen halftyd was ek egter al erg verveeld.  Nie eens in 'n ander land is rugby interessant nie!  Hul het ook nie die klank aangesit nie, so my juigende Afrikaners kon ek net in mimiekvorm sien.

Ek het daarom maar weer die pad gevat.  Toe besluit ek om 'n bietjie rond te loop en so het ek weer afgekom op die pub waar Lies se pa my die eerste dag heen gevat het.  Ek het verder gestap en het op die wonderlikste plek afgekom!  Die kaai van die Schelde!  Teen daardie tyd was die son feitlik onder en ek is begroet met 'n pragtige verkleurde uitsig!  Ek het rondgeloop en foto's geneem en voor ek my kom kry, was dit reeds 20:00.  Ek het omgedraai, maar besluit om sommer my eie koers in te slaan huis toe.  Dit het my wel langer gevat, maar ek het in systraatjies gewandel en kindertjie in Halloween-kostuums raakgeloop en die regte Europese gevoel gekry.  Dit was lieflik! 












Me Grieke kuier in België!

Kyk, ek dink nie 'n jaar gelede sou ek en me Grieke (Charlotte Gericke wat saam met my op die SR op die PUK was) gedink het dat die kuiertjie wat ons wil reël om op te vang na SR verby is, sou in Europa wees nie!  Sy is tans besig om as au pair in Limmen, Nederland te werk en is nou al vir 6 maande oorsee.  Ons het besluit om 'n nawekie saam te spandeer sodat sy 'n bietjie van België kan sien.  Ek het haar laas Vrydagaand op die stasie in Antwerpen gaan haal en dit was so lekker om haar weer te sien!  Ons het tot laat in die nag gesit en gesels, sommer oor als.  Dit het my verseker baie goed gedoen om bietjie saam met iemand te kuier wat nogal dieselfde as ek hierdie jaar ervaar.  Die hele ding van klaar met universiteit en nie meer cool goed soos SR nie, terwyl ons loopbane nog nie regtig begin het nie.

Ons het Saterdagoggend opgestaan en na ons natuurlik eers e-posse en Facebook-boodskappe nagegaan het, het ons die strate ingevaar.  Die plan was om maar in die Meir (hoofstraat van die ou stad) rond te loop, oppad na die Onze Lieve Vrouwen katedraal by Groenplaats. 



Natuurlik is 'n groot deel van die Belgiese ervaring om van die lekkerhede te proe.  Ons het eerste by die sjokoladewinkel Leonidas gestop.  Leonidas is 'n kettingwinkel chokolatier in België, met die lekkerste truffels.  Ons het een van elkeen gekoop en me Grieke het dit met die spoed van witlig verslind!



Hierna het ons in die winkels van die Meir rondgedwaal.  Ons het ook by die Stadfeestzaal ingegaan, wat 'n paar jaar gelede afgebrand het.  Die stad het dit volledig gerestoureer en daar is nou 'n hele aantal winkels, soos Crocs, Nike, Saturn ('n groot rekenaarwinkel) en Delhaize (die supermark waar ek altyd koop).   Daar is ook 'n baie moderne sjampanjekroeg in die middel.  Die saal word blykbaar nog vandag vir spesiale bankette gebruik.



Hierna het ons in die reën geloop na Groenplaats, die plein waar Onze Lieve Vrouwen katedraal is.  Ons het gaan skuiling soek in Elsschot (Belgiese digter) se restourant en 'n drankie gedrink terwyl ons skelm sjokolade geëet het.  Daarna het ons met behulp van die kelnerin se raad 'n Ierse kroeg gevind waar ons vir die res van die middag gaan wag het om die Curriebekerfinaal te sien.  Ons het maar gesit en kaart speel met 'n pak kaarte wat ons daar gekry het.  Dit was egter bietjie van 'n fiasko - daar was baie dubbels en die King, Queen en Jack was in Frans! Ek moes eers iemand gaan vra om ons te help om die te onderskei tussen die letters D, R en iets soos L of V (kan regtig nie onthou nie).   Toe dit 17:00 word, het ons verwoed die kanale probeer verander om die rugby te kry, maar daar was niks.  Na 'n lang gesukkel het Charlotte uiteindelik by iemand uitgevind dat die rugby eers die volgende naweek is! 




Ons het toe maar besluit om in die Meir te gaan fliek en het Eat Pray Love met Julia Roberts gaan sien.  Ek kan nie sê dat dit die beste fliek is wat ek al gesien het nie, maar dis verseker ook nie sleg nie.  Ek stem ook nie noodwendig saam met als wat hul doen en sê nie, maar dit gee 'n mens wel 'n paar dinge om oor na te dink.  Ons het hierna huis toe geloop en die res van die aand gesels en lekker hartsake gedeel. 

Die volgende oggend het ek laat geslaap.  Ons het gestort, 'n lekker ontbyt van vrugte en kersiejogurt geniet en het toe weer afgesit katedraal toe.  Langs die pad het ons natuurlik weer sjokolade gekoop en ook Gentse hoorns.  Ons het 'n vinnige draai gemaak in die katedraal se geskenkwinkel en besluit toe op die ingewing van die oomblik dat ons vir die dag Brugge toe wil gaan.  Ons het weer in die Meir geloop oppad stasie toe en het eers kiekies geneem by die hand van Antwerpen.  Daar is 'n legende wat iets sê van  'n reus wat matrose se hande afgekap het en in die rivier gegooi het as hulle by sy kasteel verbygevaar het sonder om te betaal.  Toe het daar een of ander Romeinse soldaat of iets gekom het en toe die reus vermoor het.  Asof dit nie genoeg was nie, het hy toe die reus se hand afgekap en in die rivier gewerp.  En dit is blykbaar waar Antwerpen vandaan kom:  Hand werpen!




In die Meir het ons afgekom op 'n plek wat soos 'n sjokolademuseum lyk waar ons 'n sjokoladepadda gevind het.  Ons het albei probeer kyk of ons die sjokoladepadda in 'n sjokoladeprins kon verander, maar geen sulke geluk nie.  Ons het toe wel uitgevind dat die sjokolademuseum nie daar is nie, maar in Brugge.  Dit was verseker 'n teken dat ons soontoe moes gaan!



Op die stasie het ons genoeg tyd gehad om blitsvinnig 'n regte Luikse wafel te koop voor ons op die trein gespring het.  'n Mens kry Brusselse en Luikse wafels, maar die Luikse wafel is verseker die lekkerste.  Charlotte het vroeër gesê 'n vriendin van haar het vir 'n sulke wafels in 'n pakkie by 'n Belgiese supermark gekoop en ek het maar net geglimlag - 'n mens kan nie 'n vars suikerwafel met sjokolade daarmee vergelyk nie!  En ek was reg!  Sy was GEK daaroor!



In Brugge aangekom is ons begroet deur reën en wind, wat vinnig in hael verander het!  Ons het maar ons jasse se kappies opgesit en verder gestap.  Gelukkig was die nie 'n Suid-Afrikaanse haelstorm nie en die korreltjies was klein genoeg.  Ons het deur Minnewaterpark geloop oppad na die stadsentrum toe.  Oppad het ons die tipiese Bruggese swane en eende gesien en lekker in die hael rondgegly.







Ons het so deur die stad beweeg, verby al die chocolatiers en oor die oulike pleins.  Ons het al wat 'n oulike sjokoladefiguurtjie in die vensters gesien, maar die heel snaaksste was die sjokoladeliggaamsdele!  Die beste van als is dat die advertensie sê dat dit 'n goeie geskenk vir jou pa sal wees.  Ek weet nie so mooi nie...  Die weer het gemaak dat daar glad nie so 'n lekker atmosfeer is soos die vorige keer wat ek daar was nie, maar nou was daar baie minder mense en dit was lekker!  Ons het tot by die Markplein gegaan, waar die toring is wat Lies en Chris laas uitgeklim het.  Die vreemde grasperkkunsding is verwyder en die plein was net gewoon oop.  Dit was eintlik mooier vir my.  Ons het al die ou geboutjies met die tipiese trapgewels baie geniet! 









Hierna het ons na die St Jansplein gaan soek om die sjokolademuseum te besoek, soos ons beplan het.  Daar aangekom het ons ontdek dat ons glad nie kontant by ons het nie en moes eers weer die straat af haas om 'n bankteller te kry.  Op die ou end het ons bitter min tyd in die museum gehad voordat dit gesluit het, maar kon darem steeds 'n lekker idee kry.  Dit het my opgeval hoe soveel van die kakao in Afrika geproduseer word.  Ons het geleer dat sjokolade eintlik baie gesond is vir 'n mens op verskillende vlakke en dat dit jou nie sal vet maak as jy dit in matige hoeveelhede gebruik wanneer jy reeds by jou doelgewig is nie ;-)  Ons het aan die einde van die uitstalling na 'n demonstrasie gaan kyk van hoe hul pralines maak en dit was heel oulik.  Ons het darem ook elkeen enetjie gekry na die tyd. 





Na hierdie soete ervaring, het ons weer die weg terug stasie toe gevind.  In Antwerpen aangekom, het ons gou Charlotte se sak by die woonstel gaan haal en weer teruggegaan stasie toe sodat sy haar trein na Amsterdam kon haal.  Dit was so 'n lekker naweek!  Baie dankie me Grieke!  

vrijdag 29 oktober 2010

Fietsen aan de Schelde

So tussen die studies en leeswerk moet 'n mens darem die plek om jou ontdek!  Lies het my so 2 naweke terug na haar huis toe genooi, en ek het die Saterdag soontoe gegaan.  Dit was 'n lieflike dag buite, mooi oop lug en koelerig.  Sy het gesê sy gaan my 'n bietjie haar dorp wys en ek dog ons gaan so 'n entjie deur die strate ry.  Ek het haar duidelik misverstaan, want 30km en 5 ure later was ons eers weer by die huis!  Vir iemand wat maar die 2de keer in 10 jaar fietsry, was dit nogal 'n uitdaging!  Ek dink dit moes vir haar baie snaaks gewees het!




 Ons het in die pletteland rondgery, al langs die Schelde.  Dis 'n soort dyk as ek nou reg verstaan.  Daar is spesiale fietspaadjies met nommers wat 'n mens 'n kaart voor kry.  Daar is ook blykbaar 'n bekende Belgiese televisiereeks daar verfilm, en ek het nogal die gevoel van ons reeks "Onder draai die duiwel rond" gekry toe ons daar ry.  Ons het al langs die water gery, op klein paadjies tussen pragtige bome, tussen mielielande en verby koeie en skape.  Ons het ook langs die pad 'n kasteel gesien en het so 2 keer gestop om 'n drankie te drink.  Dit was so rustig!  Behalwe nou vir die kere wat 'n mens inderhaas vir die atletiese fietsryers moes padgee wanneer hulle verbygejaag kom!