dinsdag 21 september 2010

Dag 9: Verdwaal in Venesië

Ons het die hele Maandagoggend spandeer in 'n trein van Rome af oppad Venesië toe. Ons het op die trein maar geslaap en Rick se raad oor Venesië gelees. Daar aangekom het ons 'n kaartjie gekoop om vir 36 uur van openbare vervoer gebruik te maak. Rick het gesê als in Venesië is duur en hy was reg – daardie kaartjie het 23 Euro gekos!

Ons is toe met 'n vaporetti (waterbus) in die Grand Canal af tot by die beroemde Rialtobrug.


Daar het ons tussen die malende toeriste heeltemal verstrengel geraak! Daar is ook nie straatname in Venesië nie. Daar is iets soos 6 streke en elke streek het gewoon 6000 nommers. Dis BAIE moeilik om jou hotel sonder 'n ordentlike kaart op te spoor. Ek het rigter weer aangesit (hy het lekker saamgewerk in Rome), maar ek vermoed die straatjies is te nou en die geboue te hoog vir 'n ordentlike sein. Ons was teen hierdie tyd nou al lekker honger en het by 'n restourant gestop vir pizza. Ek het toe maar 'n ordentlike kaart gaan koop en Chris kon darem 'n pad uitwerk. Ons het darem die hotel gekry en ek het dadelik roomys gekoop by die winkeltjie langsaan. Chris wou wag om Rick se raad te volg en die beste roomys in Venesië te gaan soek, maar toe ek later die storie van nader beskou, was dit die einste winkeltjie langs ons hotel waar ek gekoop het!  


Venesië is anders as wat ek verwag het. Die enorme hoeveelheid mense in die baie klein straatjies laat dit meer soos 'n nes voel as soos 'n stad. Ons het na ons hotel toe gevlug en eers teen 17:00 weer die strate aangedurf (nadat die dagtoeriste en 5 passasierskepe weg is). Ons het toe in 'n vaporetti gaan ry om die stad van die Grand Canal af te sien, met Rick se boek as 'n gids, natuurlik.  Almal het vooraf gesê ons moet vir 'n rit in 'n gondel gaan, maar dit kos 90 Euro (sowat R900!)  Ek het my daarom maar verbeel dat die vaporetti 'n gondel is (en het die regte gondels afgeneem).




Ons het intussen besluit om seekos die aand te eet, omdat dit vars in Venesië is. Ek het besluit om die hotel se rekenaar te gebruik en Chris het gaan slaap. Op die ou end het ek so 20:30 kamer toe gegaan en gaan vra of hy wil gaan eet, maar toe slaap hy so lekker dat hy besluit het om sommer verder te slaap. Nou ja, die volgende dag was hy darem baie meer uitgerus... Ek, aan die ander kant, het foto's op die blog kom laai en eers na 23:00 in die bed gekom.

Venesië is ons russtad. Bene rus, kop rus, als rus. Hier is in elk geval te veel mense en te min plek om enigiets anders te doen!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten