maandag 20 september 2010

Dag 5: Feestelike Florence

Ons het maar swaar afskeid geneem van Switserland en het gewonder of enigiets naby die ervaring daar sal kom. Wel, ek dink ook nie 'n mens moet probeer om die lande met mekaar te vergelyk nie, daarvoor is almal te verskillend in landskap en kultuur.

Ons moes 3 maal van treine verwissel om in Florence aan te kom. Ek het nog my baadjie aangehad van die oggend in Switserland, maar het baie vinnig daarvan ontslae geraak toe ons in Florence aankom. Dit is BITTER warm in Italië en baie bedompig! Boonop was ons skielik weer deur massas toeriste omring en die ventilasiesisteme van die treinstasies is nie baie effektief teen die swetende lywe nie. Ons het ons hotel sommer vinnig gekry en 'n aircon het sake darem effens verbeter.

Ons het vinnig laat spat in die rigting van die Accademia-gallery (waarin Michaelangelo se beroemde Dawidbeeld staan), omdat ons gehoor het dat jy al weke vooruit moet bespreek. Altans, dis wat Rick sê. Die ry was BAIE lank en daarom het ons besluit om liewer na die beroemde Duomo te gaan.


Dis Florence se katedraal en een van die 4 grootste kerke ter wêreld (die ander is St Peters in die Vatikaan, St Paul in Londen en nog een in Milan). Die meeste foto's wat 'n mens gewoonlik van Florence sien is van die Duomo en die rooi dakke van die stad. Die katedraal was regtig iets merkwaardig om te sien.



Die versierings is beeldskoon en die dak het my veral betower.





Na ons ons verwonder het aan die kerk, het ons in die ry gaan staan om tot bo in die Duomo (die toring van die katedraal) te klim. Dis 'n volle 463 trappe en daar is geen hysbak nie, swak ventilasie en die trappe is smal en die dak laag. Nadat jy jouself oor jou besluit om die tog aan te pak verwens het, kom 'n mens uiteindelik bo en die prentjie is regtig iets besonders. Die hele Florence (of Firenze soos dit in Italië bekendstaan) lê voor jou uitgestrek – uitgedos in verskillende skakerings van rooi. Ons het vir 'n wyle daar vertoef (bloot omdat jy so moeg is jy wil nie weer opstaan nie) en het later maar weer afgegaan.





Teen hierdie tyd was die ry by die Accademia al baie korter en ons het net 15min gestaan voordat ons ingegaan het (ek vermoed dis 'n rekord!). Die gallery is klein, maar dit was by verre my gunsteling. Die Dawidbeeld het my asem heeltemal weggeslaan. Dis enorm en so absoluut perfek! 'n Mens mag nie daar foto's neem nie en ek was eintlik nogal bly, want daar het darem toe nie weer so 'n spul Snapsnese die ding toegestaan nie... Die ander uitstalling wat ek ook geweldig geniet het, was van musiekinstrumente. Klaviere, viole, fluite ens. van etlike honderde jare word tentoongestel.

Na ons sukses met die Accademia het ons besluit om te probeer om die ander beroemde museum, die Ufizi te besoek. Ons het egter eers verby die regte ingang geloop en as gevolg daarvan het ons die laaste inkomtyd gemis. Ai. Ons het daarom maar in die rigting van die Medici-paleis geloop en die Ponte Vecchio gekruis.





Die Medici was die familie wat Florence tydens die Renaissance regeer het. Florence was die beginpunt van die Renaissance danksy die Medici se ontwikkeling. Hul het bevoorbeeld iemand soos Michaelangelo ontdek en betaal om sy kuns te beoefen. So het hul baie talent help ontgin. Hul het die ekonomie verbeter ens. Dit was nogal 'n lekker gevoel om dieselfde paadjie te stap as wat die Medici's eenmaal self geloop het. By hul kasteel is 'n enorme tuin, naamblik die Boboli. Ons het egter te laat daar aangekom en het maar verlangend van buite af ingeloer. Toemaar, volgende keer...

Hierna het ons 'n stadswandeling aangedurf en is heeltemal deur Florence strate in skemertyd meegesleur.  Die hongerpyne het later begin knaag en ons het 'n pamflet van 'n restourant gekry in die boek oor Florence en Tuscany wat Lies se pa vir ons geleen het. Hy is immers 'nItalië-fundi en ons het na die restourant begin soek. Na 'n redelike ruk het ons daar uitgekom, 'n oulike Italiaanse plek in een of ander Piazza. Chris het voorgestel dat ons verskeie Toskaanse disse bestel en dit deel. Dit was een van sy beter planne en die ham & spanspek, Ribolito (dink dis so iets) sop, ravioli-pasta, pork loin, een of ander kaaskoek met fruitti di bosco en huiswyn het heerlik gesmaak. (Na hierdie ete het ons maar besluit om van McDonalds in Rome te leef, want Toskaanse kos is nie goedkoop nie!)

Dit was 'n vrolike atmosfeer toe ons die tog hotel toe aangepak het en in my bedjie (wat vreeslik gesqueak het!) het, het ek geweet ek is in Italië!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten