donderdag 21 oktober 2010

Dag 18: Sprokieskastele en Passiespele

Ons het vreeslik swaar afskeid geneem van ons lekker kamer in die Holiday Inn en het weer afgesit stasie toe - die keer met die toerbewys in my sak!  Ons was 'n bietjie vroeg daar, maar dit was dalk 'n baie goeie ding, want dit het later vir my gelyk of hul mense begin wegwys.  Ons het weer agter in die bus stelling geneem en daar was 3 Asiate saam met ons.  Op die ou end was een van hul wel 'n Australiër en met praatjies van rugby het hy en Chris sommer gou maatjies gemaak.  Ons het toe sommer vir die res van die toer redelik saam beweeg.
Die bus het ons ver in die hartjie van die Bavariaplatteland geneem.  Dis beeldskoon!  Oral groen en boomryk.  Ons eerste besoekpunt was die eerste van Koning Ludwig (Mad King Ludwig soos hy bekendstaan) se 3 kastele, naamlik Linderhof.  Hierdie was sy gunsteling van die 3 en hy het vir 8 jaar van sy lewe daar gebly.  Dit was ook die enigste van die 3 kastele wat heeltemal voltooi was.  Dis eintlik nogal 'n kleinerige kasteel en herinner bietjie aan 'n moderne villa.  Genoeg vir een mens.  Hy was blykbaar 'n vreeslike privaatmens - daar was selfs 'n soort hysbak wat sy kos van die kombuis na die eetkamer geneem het, sodat sy bediendes nie by hom moet staan terwyl hy eet nie.  Hy was ook gek oor swane en dit is oral in al sy kastele as motief gebruik.  Een van die kamers (dink sy skryfkamer) in Linderhof het nie minder nie as 150 swane teen die mure geverf!

Verder was Koning Ludwig ook 'n groot aanhanger van die Franse koningsgesin.  Hy was versot op die Franse Rococo-boustyl en het probeer om Linderhof 'n klein Versailles te maak.  Daar is amper niks eg Duits aan die kasteel nie - alles is of Frans-geïnspireerd of kom van Frankryk af.  Dit was vir my 'n beter belewenis as Versailles - omdat dit heelwat kleiner is wil 'n mens nie so naar word van al die goud nie.




Ons volgende besoekpunt was Oberammergau, die dorpie waar die Passiespele elke 10 jaar gehou word.  Dit is vanjaar weer aan die gang, maar omdat ons toer op 'n Woensdag was (danksy die ou misverstandjie wat voortaan nie meer genoem sal word nie...) kon ons die dorp binnegaan.  Die Spele word nie op Maandae en Woensdae gehou nie en dan is die dorpie lieflik stil.  Dis te pragtig!  Die dorpie is ook (blykbaar) bekend vir die huise waarop verskeie van die beelde uit Hans Christian Anderson sprokies en ander verhale geverf is.



Dis 'n fassinerende storie wat tot die Spele gelei het.  In die tyd van die Groot Plaag of die Swart Dood het amper die hele Europa natuurlik van die pestilensie gedooi.  Oberammergau het hulself baie erg beskerm en niemand kon die dorpie in- of uitgaan nie.  Die was die enigste plek in die ganse Duitsland wat plaagvry was.  Totdat daar 'n jongeling wat elke jaar buite die omgewing op 'n plaas gewerk het tydens die oestyd, weer daar gaan werk het.  Toe hy vir kersfees terugkom na sy mense toe, het hy reeds simptome getoon en toe die hele dorp aangesteek.  Die mense het in massas doodgegaan.  Toe het die dorp se laaste inwoners gebid en gesê dat as die plaag sou ophou, hul elke 10 jaar die storie van Jesus sal opvoer, tot aan die einde van dae.  Niemand is verder dood nie en Oberammergau het woord gehou.  Dinge het oor die jare verander, maar hul hou steeds vol met die tradisie.  Slegs inwoners van Oberammergau mag in die Passiespele speel.  Hul moes natuurlik die teater vergroot omdat daar sedert die eerste optrede in 1634 aansienlik meer mense na die Passiespele wil kyk!   Ons het naby die groot teater gestop en ek kon darem tot in die voorportaal kom.



Blykbaar is Oberammergau ook bekend vir sy houtwerk en Chris het so 'n bietjie daarna gaan kyk.  Hy het by 'n plekkie aangedoen waar die huidige eienaar reeds die 7de geslag is wat houtwerk doen.  Dit was blykbaar werklik mooi.  Ek het die sentrum van die dorpie gaan ontdek (opsoek na magnete) en het afgekom op kersieroomys teen 1 EUR vir 'n enorme lepel.  Wel, ek weet die Italianers is bekend vir hul roomys en ons het letterlik oral in Italië roomys geproe, maar my gunsteling is steeds dié in Parys en hierdie spesiale skeppie in Oberammergau.  Gelukkig sal ek weer daarvan kan kry, want ek gaan verseker oor 10 jaar na die Passiespele kom kyk.

Ons laaste stop vir die dag was die Schloss Neuschwanstein.  Maar eers moet ek vertel van ons gids.  Dit lyk my ons het al die ekstreme gevalle gekry - as sy nie woes irriterend is nie, dan het sy saam met Noag op die ark rondgerits.  Skattige tannietjie, maar o jitte, vurig!  Daar was 'n sekere meneer wat meer as 'n halfuur laat was vir die bus toe ons uit Oberammergau vertrek het, en in plaas daarvan om hom daar te los, het ons gewag.  Op die ou end het hy daar opgedaag, maar toe het die tannietjie vir die res van die pad tekere gegaan oor hoe laat ons nou is en dat ons nou nie meer tyd sal hê vir middagete nie.  Ons kon glad nie verstaan waaroor sy so ontsteld was nie - ons het daar aangekom en middagete (saam met bier!) gehad en was nog meer as betyds vir die kasteel! 

Die kasteel is bo die dorp in die bos en kyk uit op 'n pragtige meer.  Dit is oorkant die kasteel waar Ludwig as kind grootgeword het.  Hier is 'n foto van daardie kasteel.  Vandag word dit privaat besit.


Ons het 'n bussie geneem om ons redelik tot na aan die kasteel se ingang te kry en dit het seker 'n goeie halfuur (volgens die tannietjie) gespaar.  Ons het toe eers na die brug 'n entjie hoër op geloop, en is bederf met die mooiste uitsig!  Van die brug af kan jy die kasteel volledig sien, met die meer aan die agterkant.




Net 1/3 van hierdie kasteel is ooit voltooi.  Hulle het konstruksie daaraan gestop toe Ludwig oorlede is.  Dis ook nogal 'n interessante storie.  Die mense het begin dink die koning se kop raas.  Toe het hulle hom insane verklaar en die dag daarna is hy dood in 'n meer aangetref.  Hul het hierdie kasteel 6 weke na sy dood as 'n museum geopen.


Die stappie terug onder na die bus toe, was heerlik.  Al deur die bosse, verby waterstroompies.  Met ons terugrit het tannietjie ons allerhande stories vertel.  My gunsteling storie was wel die geskiedenis van Luther wat sy met goeie akkuraatheid vertel het. 

Terug in Munchen het ons ons sakke by die hotel gaan haal en weer afgesit stasie toe om op die nagtrein na Amsterdam te klim.  Teen hierdie tyd was ons al half gewoond aan dronk Duitsers in hulle tradisionele pakkies wat laataand op die metrostasies is.  Ons het by ons metrostasie gestaan en wag en daar het twee singende Duitsers in pakkies nader gekom.  Behalwe, die volgende oomblik hoor ons hul luidkeels sing "Kaptein, span die seile"!  Wel, dit het die wind uit ons seile gevat!  Ek het uitgebars van die lag.  Chris het eers gedink, sjoe, is die liedjie dan oorsee ook so gewild, toe die twee besluit om ander Afrikaanse liedjies te sing - vals en met die verkeerde woorde!  Singend en laggend en duidelik onder die indruk dat NIEMAND hul verstaan nie, het hul verby ons geloop, die twee Afrikaners in Duitse pakkies.  Hoe klein is die wêreld nie!

Omdat ons planne verander het, kon ons nou Munchen af al in ons slaapkompartement wees en dit het daarom beteken dat ons 'n beter nagrus sou kry.  Ons het eers gedink ons slaap dalk alleen in die 6-bed kompartement, totdat daar net voor vertrektyd 'n Duitse man en vrou aangekom het - albei goed gefees.  Die vrou kon volgens haar man nie Engels praat nie, maar darem genoeg om self vir ons te sê sy praat nie Engels nie!  Die twee was oppad huis toe van Oktoberfest af en ek het gesien dit gaan 'n gesukkel afgee om saam met die twee te slaap.  Hy het aanhou om vir ons te verduidelik dat daar nie 'n direkte trein van Munchen na hul dorp is nie, en hul daarom iewers deur die nag 'n konneksie kry.  En maak nie saak wat 'n mens vir hom vra nie, hy verduidelik die hele tyd (al hoe stadiger) dat hulle 'n konneksietrein iewers kry.  So nee, met my beste pogings kon ek nie vasstel tot hoe laat die tweetjies saam met ons sou reis nie. 

Vroulief het darem vinnig haar bed heel bo gekry (ons het onder geslaap), maar om hom bo te kry was iets anders.  Na vele pogings was hy uiteindelik bo.  Daar het hy homself gemaklik gehad, en sy skoene kliphard afgeskop en een het my getref!  Hy kon nie stillê nie!  Eers trek hy die gordyne toe, dan staan een van ons maar op en maak dit weer toe.  Dan kriewel hy.  Dan eet hy.  Dan praat hy.  Kort-kort sê sy vrou vir hom "Stephaaaaaaaaaaan!  Wat maak jy (in Duits)?"  En dan:  "Stephaaaaaaaaaaaaaaan, slaafst!"  Dit was skreeusnaaks.  Hy het uiteindelik rustig geraak en het ons nie verder gepla nie.  Ai, hierdie feeste darem ;-)

Geen opmerkingen:

Een reactie posten