donderdag 28 oktober 2010

Top 10 Tips vir ´n Europese backpacker-toer

Na 23 dae in Europa se strate, deel ek graag in breë samevattings wat ek geleer het rondom die aspekte van so ´n reis:

1.  Doen lekker navorsing vooraf oor watter plekke die moeite werd is en hoekom.  Gebruik ´n gids soos Rick Steves by http://www.ricksteves.com/ maar onthou dat alhoewel hy Europa goed ken, dis steeds sy eie mening.  Jy ken jouself.  Jy weet waarvan jy sal hou en waarvan nie. 

2.  Werk genoeg rustyd in.  Om ´n plek soos Parys in 2 dae deur te draf, is vermoeiend.  Maar ook: jy kan nie ´n plek soos Parys in 2 dae kafdraf nie!  Daar is gewoon te veel om te sien.  Maak vrede daarmee en prioritiseer die besienswaardighede wat jy gaan besoek.  Besoek eerder klusters besienswaardighede na aan mekaar.

3.  Beplan jou reis geografies.  Reistyd vat lank en as jy nie die grootste deel van jou vakansie in ´n trein wil spandeer nie, moet jy jou beplanning daarvolgens inrig.  Daar is bv. nagtreine wat die afstande aansienlik sal krimp.  Daar is ook vinniger treine, bv. die Thalys en TGV, maar dit kos baie ekstra.  Dis egter wel die moeite werd.

4.  Dit is heeltemal moontlik om vir 3 weke uit ´n 35L-rugsak te leef.  ´n Mens het eintlik net die helfte nodig van wat jy dink jy het.  Die belangrikste is ´n lekker rugsak (ek het ´n 35L Kilimanjaro van K-Way), ´n goeie baadjie (bv. 3-in-1 Alaskabaadjie van K-Way) en ordentlike waterdigte stapskoene (jy loop ongelooflik baie!).

5.  Ontbyt in die meeste Europese hotelle is nie die moeite werd nie.  Dit sluit gewoonlik koffie/sap en croissants in.  Daar is oral vars bakkers en kafees.  Spaar geld op jou hotelbespreking en kry eerder iets langs die pad.  So kom jy ook op interessante kosse af.

6.  Bespreek hotelle so na moontlik aan die treinstasie wat jy hoofsaaklik gebruik.  Al is daar ´n metro of busstop na aan jou hotel, kan dit jou steeds ´n halfuur na ´n uur neem om by jou hotel te kom.  Die meeste dagtoere begin ook by ´n neutrale plek soos ´n stasie.

7.  Kaarte is baie belangrik.  Koop een by elke stasie.  ´n GPS vat plek, die kaarte daarop is duur en jy sukkel jou dood om ´n ordentlike sein hier te kry, omdat daar te veel inmenging is.  Vind ook vooraf uit watter metrostasies na aan watter besienswaardighede en jou hotel is. 

8.  Moenie sommer in die middel van die somer (Junie-Augustus) gaan nie.  Die hele Amerika is dan in Europa.  September se weer is matig en daar is minder (steeds baie) toeriste.  Weet dat jy oral groot groepe Sjinese met enorme kameras gaan kry en daarom is dit partykeer die moeite werd om laterig in die middag na ´n bekende en besige plek te gaan.

9.  Jy hoef nie ´n reisagent te gebruik nie.  Alles is moontlik deur die internet.  Bespreek jou vliegkaartjie deur ´n reisagent, maar doen die res self.  Gebruik ´n webwerf soos http://www.tripadvisor.com/ om verblyf te bespreek en http://www.viator.com/ vir dagtoere.

10. Alles in Europa is letterlik dubbeld so duur as in SA.  Dit is maklik om te veel te spandeer en as jy ´n daaglikse begroting het, MOET jy daarby hou.  Daar is baie maniere om geld te bespaar, soos om nie by toeristerestourante te eet nie, maar eerder in supermarkte kos te koop.  Moenie elke ding wat jy koop terugwerk na rand nie - jy sal niks koop nie en doodgaan van die honger!

Om so iets te doen is die avontuur van ´n leeftyd!  Ek sal dit verseker weer doen en enigiemand aanbeveel om so iets aan te pak.  Jy moet net onthou dat dit BAIE werk is om so iets self aan te pak.  ´n Bustoer, bv. Contiki, is baie minder moeite, maar dit perk jou vryheid geweldig in.  Dis ook glad nie so goedkoop as wat dit lyk nie - daar is baie versteekte uitgawes.  Maar, as jy nie hou van vakansies beplan en om dinge self te doen nie, gaan eerder op ´n toer.  Indien iemand dit sou versoek, kan ek ´n meer gedetaileerde lys inligting opstel, soos wat om te pak.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten