woensdag 27 oktober 2010

Dag 19: Amsterdam

Ons het die volgende oggend in trietsige weer in Amsterdam aangekom.  Toe ons buite die stasie kom, kon ek die landskap herken wat ek al so baie op die Belgiese TV-kanaal BVN gesien het, maar dit het grys en vaal in die wasige reën gelyk.  Ons het die toerismekantoor besoek en tremkaartjies gekry, waarna ons afgesit het hotel toe.  Ons hotel was lekker naby die tremstop, ook naby die Vondelpark en die museumareas.  Ons het ons sakke by die hotel gelos, en teruggegaan stasie se kant toe, om te gaan aanmeld vir ons fietstoer.

Ek het verstaan al ons Amsterdamtoere is van dieselfde maatskappy en ons gaan meld toe in Damrakstraat aan vir die fietstoer.  Hul stuur ons toe egter na 'n ander maatskappy toe en daar sit en wag ons 'n ruk.  Later voel iets nie vir my reg nie en ek pluk my papiere uit om die toer te bestudeer.  So ontdek ek toe ons moenie daar wees nie, maar terug by die stasie - en ons het 15 min oor!  Mnr. Conradie het net droogweg opgemerk dat hy nie kan verstaan hoe 'n mens 'n uur vroeg kan wees en dan steeds laat is nie... 

Ons kom toe heeltemal betyds by die stasie aan, maar daar is geen teken van ons toergids in sy geel hempie nie.  Ons loop rond voor die stasie, soek en soek en teen 13:15 het ons besluit die ou is nie daar nie.  Dit het nogsteeds gereën en ek was moeg, so toe besluit ek dat ek teruggaan hotel toe om ons sakke in die kamers te sit en 'n middagslapie te neem.  Daarna sou ek museums toe gaan.  Ek was eintlik maar te dankbaar om nie op die fietstoer te moet gaan nie - die reën en verkeer het nie pret gelyk nie.  Chris wou die fietstoer doen en het met die voucher in die hand afgesit om die geel gids te gaan soek.

Ek het by die hotel in my beste Nederlands ingeteken en het op die snoesige bed gaan val.  Maar skielik het ek agtergekom dat ek nie alleen is nie!  Daar was iemand in die badkamer - darem net besig om dit skoon te maak!  Dit was 'n swart man en toe hy met my begin praat het ek onmiddellik agtergekom hy is van Afrika.  Blykbaar toe Gaboen, as ek nou reg onthou.  Het ons nou lekker gesels! Dit was heerlik om te hoor hoe hy Nederland ervaar.  Vir hom is dit so 'n vry en liberale plek, waar almal die reg het om gelukkig te wees en waar daar genoeg geld is.  Maar hy mis Afrika se son en ooptes en sy gesin wat steeds daar is.

Hierna het ek verval in die lekkerste middagslapie wat ek in maande gehad het!  Met die reën wat sag buite geval het en die min slaap van die vorige weke en die drama van die tyd voor ek weg is, het ek soos 'n babatjie geslaap en eers rondom 18:00 wakker geword - hopeloos te laat vir museums!  Maar, ek het myself belowe dat ek weer Amsterdam toe sal gaan, maar in die somer.  Plus, die Van Gogh- en Rijksmuseum se ingangsgelde is so duur!  Ons praat van iets soos 12 EUR en 14 EUR!

Ek het toe maar daar in die kamer rondgehang en gewag vir Chris om terug te kom.  Teen 19:45 het hy steeds nie sy opwagting gemaak nie, en ek het maar afgesit stasie se kant toe.  Die reën het opgeklaar en dit het heerlik vars geruik.  Ek het nog 'n voucher gehad om op 'n "Amsterdam Canal Cruise" te gaan en wou dit gaan doen.  Die toer sou eers 21:30 begin, en ek het daarom die hoofstrate ingevaar.  Daar was egter meer Amerikaners as enigiets anders en groterige groepe ouens het my ongemaklik gemaak.  Ek het maar my toevlug in McDonalds gevind en 'n Nederlandse burger met 'n kaaskroket geëet. 

Die Canal Cruise was nie so effektief in die nag nie, maar ek dink ook nie dit sou lekker gewees het in die reën vroeër in die dag nie.  Ons het deur die hoofkragte van Amsterdam gery en 'n bietjie oor die verskillende gebiede geleer.  Wat my opgeval het was die gewels van die geboue.  Sommiges was in 'n trapvorm, sommiges rond ens.  Ons was 'n redelike groepie op die boot en hul het die kommentaar in 4 tale gespeel!  Engels, Nederlands, Frans en Spaans!  Aan die einde van die uurlange toer het ek weer afgesit hotel toe, en 'n moeë Chris aangetref.  Hy het toe wel die fietstoerouens in die hande gekry, maar hy was die enigste een.  Hy en die toerleier was toe alleen op 'n Amsterdamse toer.  Blykbaar was dit beter dat ek nie saam was nie, want mens moes agteruit trap om te rem en die hele tyd met die busse in die strate kompeteer.  Voeg my by en jy het 'n resep vir chaos!

Van hierdie dag het ek niks foto's nie.  Daar was niks om af te neem behalwe reën en die stasie nie.  Ek gaan (as ek dalk kan terugkom) in die somer kom, en dan sommer 2 dae net in Amsterdam spandeer.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten