Maandagoggend het ons redelik vroeg opgestaan. Lies en Jonas moes by die stasie in Puurs afgelaai word om terug te gaan Leuven toe en oom Eddy het my en Chris van daar verder na Antwerpen geneem. Daar was maar 'n paar traantjies in Lies se ogies toe sy en Jonas vir Chris totsiens sê en dit het my getref dat dit regtig verby is. Dit was net gewoon weird.
Oom Eddy het ons tot buite Antwerpen (Linkeroever) geneem waar ons 'n metro na die stad geneem het. Dis blykbaar baie moeilik om parkering in die stad te kry. So het ons op en af geloop - ek het my enorme 20kg tas wat agter my aanry. Ons het vir Martine by die universiteit gaan ontmoet en sy het my na my kot (Belge se manier om na 'n woonstel te verwys) geneem. Dit is so groot! Ek sou maklik met spasie van 'n kwart van my kot kon regkom. Maar, dit was ook bitter vuil. Ek weet nie of die vorige persoon ooit skoongemaak het nie, maar daar was verseker nie iemand daarna hier nie. Chris het toe die strate ingevaar om Antwerpen 'n bietjie te verken en ek het my fakulteit gaan soek.
Daar aangekom was my professor nie daar nie en het hul maar vir my my lessenaar gaan wys en 'n bietjie rondgevat in die gebou. Daarna het ek weer my pad terug kot toe gevind en begin uitpak. Later het Chris weer gekom - met 12 botteltjies Kriek in sy rugsak! Oom Eddy het aan die einde van die middag gekom en ons stasie toe geneem waar Chris sy trein moes haal tot in Brussels, dan Parys en dan Barcelona. Daar het ons gegroet en Chris is toe weg Spanje toe. So, van hier af was dit nou net Carla wat in Europa kuier, want Chris kuier weer terug in sy Koepel.
Oom Eddy het my so 'n bietjie rondgeneem en ons het na Groenplaats en die Onze Lieve Vrouwen katedraal gegaan. Daar het ons by 'n pub 'n Antwerpse bier De Koninck gedrink en ek moes toe self die pad uitwys na my kot toe. Ons het langs die pad by 'n kruidenier, Carrefour, gestop en ek het gou die nodigste gekoop. Hy het my veilig ook gou na 'n studenterestourant toe gevat om iets te eet en is toe huis toe.
So het die vakansie-avontuur tot 'n einde gekom, maar die studie-avontuur het nou eers begin! Dankie Chris, dit was heerlik en ek is bly ek kon dit met 'n goeie vriend deel.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten