woensdag 27 oktober 2010

Dag 21 en 22: Belgiese stede

Die volgende dag was Saterdag en alles was rustig.  Daar was skielik 'n moegheid oor my soos wat ek duidelik kon agterkom ek begin ordentlik ontspan.  Ek hoef nie meer vouchers te onthou of uit te werk watter trein waar is nie.  Die weer was maar weer aaklig en ons laat die middag 'n trein na Gent geneem. 


Dit is ook soos Leuven 'n studentestad en Lies sê sy het dit oorweeg om soontoe te gaan.  Dit is blykbaar pragtig daar, maar ek het nie veel daarvan gehou nie.  Vermoedelik het die simpel weer en my moegheid iets daarmee te doen gehad. 




Ons het so 'n bietjie rondgeloop, die kerk besoek en later 'n Kriek in 'n klein koffiewinkeltjie gaan drink.  Dit was so lekker om weer Kriek (kersiebier) te kon kry!  Dit was nêrens anders in die hele Europa beskikbaar nie!  Ons het ook iets soos Gentse hoorns geëet.  Dis 'n soort lekker in die vorm van 'n cone.  Dis pienk en vrugtig en bitterlik soet! 


Nie lank daarna is ons weer terug na Sint Amands en ek het feitlik onmiddellik gaan slaap.  Chris sou nog laat opbly en saam met die res kuier, maar hy is blykbaar nie lank na my nie ook bed toe.  Maggies, maar ek het so lekker geslaap! 

Sondag het ons lekker vars brood van die bakker gehad vir ontbyt en het later afgesit Brugge toe.  Dit was 'n pragtige dag!  Die treine was oorvol soos die mense vir oulaas probeer het om op 'n mooi dag by die see uit te kom en Brugge was oppad soontoe.  Ons het al die pad gestaan.  Brugge is (en daar is nie 'n beter woord nie) cute!  Daar is oral die oulikste ou geboue, groen bome, wit swane en soveel sjokoladewinkels!


Ons het deur die Begijnhof beloop en 'n regte begijntje gesien.  Dis blykbaar 'n soort klooster met nonne, behalwe dat hul nie vir hul hele lewens gebind is nie en enige tyd kan gaan.  Dis nou as ek die storie reg verstaan. 


Ons het toe op 'n bootjie gaan klim en op 'n toer deur die gragte van Brugge gegaan.  Die hele ou deel van die stad is so tradisioneel medievil en ons het ons verkyk na die rustigheid daarvan.  Volgens Lies het hul aansoek gedoen om die hele stadsentrum tot 'n wêrelderfenisgebied te laat verklaar, maar was tot dusver onsuksesvol.  Blykbaar is dit beter op hierdie manier vir die inwoners, omdat hul nie veranderings aan hul huise sal kan maak indien UNESCO daaroor sal moet besluit nie. 





Ons het na die Markplein, wat die grootste plein in die stad is gegaan.  Daar het ons by 'n frituur frietjes gekoop en op die museum se trap gaan sit en eet.  Daar was een of ander soort grasperkuitstallingding wat daar aangegaan het.  'n Soort graskunswerk wat die hele plein volgestaan het.  Daar is ook 'n baie mooi toring en Chris en Lies het dit gaan klim.  Ek het gevoel ek het genoeg van Europa van bo af gesien en gaan nie weer betaal daarvoor nie.  Jonas ook nie.  Toe gaan loop ons in die stad rond en proe sjokolade terwyl ek Nederlandse grammatikalesse kry :-). 






Na 'n Kriekdrankie op een van pleins het ons weer die trein gaan haal.  Die aand het Lies se ouers ons almal uitgevat vir 'n ete by 'n lekker Vlaamse restourant in Sint-Amands.  Daar het ons so lekker geëet en gekuier!  Die volgende oggend sou ons Antwerpen toe vertrek sodat ek kan studeer en het die laaste aand van "vryheid" terdeë geniet!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten