Na die heerlike ete en speletjies van die vorige aand, het ons heerlik geslaap! Die volgende oggend het ons 4 ontbyt geëet en toe vir ons gids gewag. In Praag kan 'n mens 'n privaatgids huur vir ongeveer dieselfde prys as 'n standaardtoer in enige van die ander Europese lande. 'n Mens betaal ook per uur en nie per persoon nie, so met Lies en Jonas saam, het dit baie goedkoper uitgewerk.
Op die ou end het die vorige dag se drama vir 'n beter program vir ons dag in Praag gesorg. Ons sou saam met een van Katharina se werknemers Gabriela gaan stap, maar omdat die tyd verander het, was Gabriela nie meer beskikbaar nie en ons het toe saam met Katharina self gaan stap! Dit was regtig heerlik! Die lekker ding van 'n privaatgids is dat jy alles sien en leer, maar met 'n persoonlike aanslag.
Ons het gou besef dit was een van ons slimste besluite om iemand te kry om ons rond te neem. Tsjeggies is na aan Russies en dis verseker nie 'n been van tale wat ek verstaan nie! Amper elke letter het 'n diakritiese teken wat dit meer soos vloekwoorde laat lyk as enigiets anders! Katharina het ons so 'n bietjie van die taal vertel, maar dit was wel...Tjeggies vir my! Omdat al die trems en tekens in Tsjeggies is, was dit lekker om iemand te hê wat weet waar ons moet wees.
Katharina het ons eerste na die Praag kasteelkompleks geneem. Dis redelik bo teen die berg met 'n pragtige uitsig oor die stad. Ten spyte van die grys lug was dit steeds indrukwekkend. Die Praagse kasteel is omtrent 'n prentjie. Dit is oor verskeie eeue gebou, met die laaste konstruksie wat eers in die 1920's voltooi is. Dis ook die enigste gebou van sy soort in Europa wat die gesigte van die argitekte ingeëts het. 'n Mens kan duidelik aan die stene sien watter deel ouer is - dis heelwat swarter omdat dit die rook en roet van soveel jare absorbeer. Ons het ook onder die balkon gestaan waar Hitler die mense van Praag tydens sy regeringsjare toegespreek het. Natuurlik was daar oral Sjinese met sambrele wat die uitsig versper het!
Van bo by die kasteelkompleks het ons 'n mooi uitsig oor die stad en veral oor die adelikes van ouds se paleise gehad. Daar was een vreemde ou wat iets "heeltemal anders" vir sy paleis wou gehad het, en daarom het die argitekte vir hom 'n soort muur gebou wat soos 'n grot van binne gelyk het. Vir my het dit meer soos kopbene van bo af gelyk. Vandag is dit 'n gewilde toeristeaantreklikheid.
Van die kasteel af het ons bergaf geloop na die ou stadsplein. Maar eers het ons iewers 'n kafee gaan soek waar ons 'n bietjie gluwein kon gaan drink. Ons het soos natgereënde hoenders gelyk en gevoel! Terwyl ons daar gesit het, het Katharina ons 'n bietjie vertel van haar ervaring van kommunisme en die val van die Ystergordyn. Dit was dalk die beste deel van die toer vir my. Dit het my tot 'n mate aan Suid-Afrika herinner en dit was nogal 'n lekker gevoel gewees om te dink dat ons land nie die enigste met 'n rowwe geskiedenis en probleme is nie.
Katharina het ons verder deur die stad geneem en interessante plekke gewys. Ek het nie naastenby soveel foto's geneem as wat ek wou nie, bloot omdat my kamera nie waterdig is nie en druppels op die lens is moeilik om suksesvol af te vee. Die volgende plek wat nogal besonders was om te sien, is die Charles-brug. Hierdie burg is bekend as die brug wat Oos- en Wes-Europa aaneengeskakel het.
Ons het na die Old Town Square geloop om na die Astronomiese klok te gaan kyk. Wat 'n prentjie! Die oulikste is dat daar elke uur 'n hele konsertjie is. Daar is sulke poppies wat loop en 'n geraamtetjie wat 'n toutjie trek - so 'n enorme vorm van 'n muur-koekoeklok. Dis moeilik om gewone tyd daarop te kan lees, so daar is ook 'n gewone horlosie bo aan die toring wat almal maar gebruik.
Katharina het ons vinnig vertel van die Joodse geskiedenis in die stad en het vaarwel gesê. Ons het toe middagete gaan eet by 'n restourant waar baie van die inwoners eet. Hul noem dit 'n skinkbordrestourant en dit werk baie soos 'n koshuis: jy neem porsies van die verskillende opsies en betaal dan daarvoor. Ek het tradisionele goulash en "dumpling" geëet.
Hierna het ons 'n bietjie gaan rondstap en na die Joodse deel gegaan, maar die ingangsfooie vir die begrafplaas ens. was 'n bietjie te duur. Ons wou ook baie seker maak dat ons nie ons trein om 17:04 na Munchen haal en daarom het ons maar begin hotel se kant toe staan. Lies en Jonas het saam met ons gegaan en ons op die stasie afgesien. Dit was heerlik om die naweek saam met hul te spandeer!
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten