zaterdag 30 oktober 2010

Allerhande dinge in Antwerpen

Donderdag wat verby is, het ek en 'n paar van my mede-M-studente 'n biertjie by 'n Belgiese pub gaan drink.  Ons was op die ou end net 4 - die meeste ander het ander verpligtinge gehad.  Ons was ek, Jan Jorissen ('n Belg wat 'n M doen en 'n onderwyser in Engels gaan word), Donata (uit Luthuania) en Inge ('n Belg).  Ek was aanvanklik 'n klein bietjie skrikkerig, maar dit was op die ou end net 'n lekker rustige aand en ons het so lekker gekuier!  Ek, Jan en Inge het later 'n pizzaplek ook gaan opsoek.

Donata en Jan (Jan is bietjie kamerasku - maar minder as Chris moet ek sê!)

Inge (sy was in 'n motorongeluk toe sy 2 was en is verlam sedertdien)



Vandag is Saterdag en ek het besluit dat ek 'n bietjie rugby gaan kyk.  Dis iets wat ek na alle waarskynlikheid nooit by die huis sou doen nie, maar ek het gedink 'n klomp juigende Afrikaners op TV sal my goed doen.  Ek het daarom weer na die Irish pub gegaan waar ek en Charlotte verlede naweek gesit en wag het.  Daar was net 3 ander mense wat ook rugby gekyk het, maar hul het 'n sterk Britse Engels gepraat en ek neem daarom aan hul is nie Suid-Afrikaners nie.  Ek het van die pub se lekker pampoensop geëet en lekker gelag vir hul Halloween-versierings.  Teen halftyd was ek egter al erg verveeld.  Nie eens in 'n ander land is rugby interessant nie!  Hul het ook nie die klank aangesit nie, so my juigende Afrikaners kon ek net in mimiekvorm sien.

Ek het daarom maar weer die pad gevat.  Toe besluit ek om 'n bietjie rond te loop en so het ek weer afgekom op die pub waar Lies se pa my die eerste dag heen gevat het.  Ek het verder gestap en het op die wonderlikste plek afgekom!  Die kaai van die Schelde!  Teen daardie tyd was die son feitlik onder en ek is begroet met 'n pragtige verkleurde uitsig!  Ek het rondgeloop en foto's geneem en voor ek my kom kry, was dit reeds 20:00.  Ek het omgedraai, maar besluit om sommer my eie koers in te slaan huis toe.  Dit het my wel langer gevat, maar ek het in systraatjies gewandel en kindertjie in Halloween-kostuums raakgeloop en die regte Europese gevoel gekry.  Dit was lieflik! 












Geen opmerkingen:

Een reactie posten