Ons het Saterdagoggend opgestaan en na ons natuurlik eers e-posse en Facebook-boodskappe nagegaan het, het ons die strate ingevaar. Die plan was om maar in die Meir (hoofstraat van die ou stad) rond te loop, oppad na die Onze Lieve Vrouwen katedraal by Groenplaats.
Natuurlik is 'n groot deel van die Belgiese ervaring om van die lekkerhede te proe. Ons het eerste by die sjokoladewinkel Leonidas gestop. Leonidas is 'n kettingwinkel chokolatier in België, met die lekkerste truffels. Ons het een van elkeen gekoop en me Grieke het dit met die spoed van witlig verslind!
Hierna het ons in die winkels van die Meir rondgedwaal. Ons het ook by die Stadfeestzaal ingegaan, wat 'n paar jaar gelede afgebrand het. Die stad het dit volledig gerestoureer en daar is nou 'n hele aantal winkels, soos Crocs, Nike, Saturn ('n groot rekenaarwinkel) en Delhaize (die supermark waar ek altyd koop). Daar is ook 'n baie moderne sjampanjekroeg in die middel. Die saal word blykbaar nog vandag vir spesiale bankette gebruik.
Hierna het ons in die reën geloop na Groenplaats, die plein waar Onze Lieve Vrouwen katedraal is. Ons het gaan skuiling soek in Elsschot (Belgiese digter) se restourant en 'n drankie gedrink terwyl ons skelm sjokolade geëet het. Daarna het ons met behulp van die kelnerin se raad 'n Ierse kroeg gevind waar ons vir die res van die middag gaan wag het om die Curriebekerfinaal te sien. Ons het maar gesit en kaart speel met 'n pak kaarte wat ons daar gekry het. Dit was egter bietjie van 'n fiasko - daar was baie dubbels en die King, Queen en Jack was in Frans! Ek moes eers iemand gaan vra om ons te help om die te onderskei tussen die letters D, R en iets soos L of V (kan regtig nie onthou nie). Toe dit 17:00 word, het ons verwoed die kanale probeer verander om die rugby te kry, maar daar was niks. Na 'n lang gesukkel het Charlotte uiteindelik by iemand uitgevind dat die rugby eers die volgende naweek is!
Ons het toe maar besluit om in die Meir te gaan fliek en het Eat Pray Love met Julia Roberts gaan sien. Ek kan nie sê dat dit die beste fliek is wat ek al gesien het nie, maar dis verseker ook nie sleg nie. Ek stem ook nie noodwendig saam met als wat hul doen en sê nie, maar dit gee 'n mens wel 'n paar dinge om oor na te dink. Ons het hierna huis toe geloop en die res van die aand gesels en lekker hartsake gedeel.
Die volgende oggend het ek laat geslaap. Ons het gestort, 'n lekker ontbyt van vrugte en kersiejogurt geniet en het toe weer afgesit katedraal toe. Langs die pad het ons natuurlik weer sjokolade gekoop en ook Gentse hoorns. Ons het 'n vinnige draai gemaak in die katedraal se geskenkwinkel en besluit toe op die ingewing van die oomblik dat ons vir die dag Brugge toe wil gaan. Ons het weer in die Meir geloop oppad stasie toe en het eers kiekies geneem by die hand van Antwerpen. Daar is 'n legende wat iets sê van 'n reus wat matrose se hande afgekap het en in die rivier gegooi het as hulle by sy kasteel verbygevaar het sonder om te betaal. Toe het daar een of ander Romeinse soldaat of iets gekom het en toe die reus vermoor het. Asof dit nie genoeg was nie, het hy toe die reus se hand afgekap en in die rivier gewerp. En dit is blykbaar waar Antwerpen vandaan kom: Hand werpen!
In die Meir het ons afgekom op 'n plek wat soos 'n sjokolademuseum lyk waar ons 'n sjokoladepadda gevind het. Ons het albei probeer kyk of ons die sjokoladepadda in 'n sjokoladeprins kon verander, maar geen sulke geluk nie. Ons het toe wel uitgevind dat die sjokolademuseum nie daar is nie, maar in Brugge. Dit was verseker 'n teken dat ons soontoe moes gaan!
Op die stasie het ons genoeg tyd gehad om blitsvinnig 'n regte Luikse wafel te koop voor ons op die trein gespring het. 'n Mens kry Brusselse en Luikse wafels, maar die Luikse wafel is verseker die lekkerste. Charlotte het vroeër gesê 'n vriendin van haar het vir 'n sulke wafels in 'n pakkie by 'n Belgiese supermark gekoop en ek het maar net geglimlag - 'n mens kan nie 'n vars suikerwafel met sjokolade daarmee vergelyk nie! En ek was reg! Sy was GEK daaroor!
In Brugge aangekom is ons begroet deur reën en wind, wat vinnig in hael verander het! Ons het maar ons jasse se kappies opgesit en verder gestap. Gelukkig was die nie 'n Suid-Afrikaanse haelstorm nie en die korreltjies was klein genoeg. Ons het deur Minnewaterpark geloop oppad na die stadsentrum toe. Oppad het ons die tipiese Bruggese swane en eende gesien en lekker in die hael rondgegly.
Hierna het ons na die St Jansplein gaan soek om die sjokolademuseum te besoek, soos ons beplan het. Daar aangekom het ons ontdek dat ons glad nie kontant by ons het nie en moes eers weer die straat af haas om 'n bankteller te kry. Op die ou end het ons bitter min tyd in die museum gehad voordat dit gesluit het, maar kon darem steeds 'n lekker idee kry. Dit het my opgeval hoe soveel van die kakao in Afrika geproduseer word. Ons het geleer dat sjokolade eintlik baie gesond is vir 'n mens op verskillende vlakke en dat dit jou nie sal vet maak as jy dit in matige hoeveelhede gebruik wanneer jy reeds by jou doelgewig is nie ;-) Ons het aan die einde van die uitstalling na 'n demonstrasie gaan kyk van hoe hul pralines maak en dit was heel oulik. Ons het darem ook elkeen enetjie gekry na die tyd.
Na hierdie soete ervaring, het ons weer die weg terug stasie toe gevind. In Antwerpen aangekom, het ons gou Charlotte se sak by die woonstel gaan haal en weer teruggegaan stasie toe sodat sy haar trein na Amsterdam kon haal. Dit was so 'n lekker naweek! Baie dankie me Grieke!
Oh my word me vd Heever, dit is amazing!! Jy weet hoe baie ek hierdie nawekie waardeer het!!! Dankie daarvoor en vir die fantastiese samevatting! Eks seker ons paadjies gaan weerk kruis, meer as wat ons gedink het!!!! Sterkte daar, kom kuier tog 'n bietjie hier in Nederland man!!
BeantwoordenVerwijderen