zondag 10 oktober 2010

Dag 16: O Oktoberfesht!

In Munchen het ons in die Holiday Inn gebly en dit was wel heerlik om vir 3 nagte op dieselfde plek te kry.  Daar was ook 'n TV en alhoewel alles hoofsaaklik in Duits was, het Chris dit geniet om weer met die wêreld in kontak te wees.  Ek het (so terloops) 'n dokumentêr oor Apartheid gesien terwyl ek die oggend aangetrek het.  Dis nogal interessant om van jou eie land in Duits te leer (ook om te sien hoe die program aanmekaar gesit is).

In elk geval, ons uitstappie vir die dag was die wêreldberoemde (en berugte...) Oktoberfest wat jaarliks in Munchen gehou word.  Ons het die vorige aand toe ons in Munchen aangekom het, reeds van die feesgangers gesien.  Al die mense dra hul tradisionele klere en dit lyk of jy nie 'n ware Bavarian is as jy nie Oktoberfest toe gaan nie!

Ons gids het ons eers na die ingang geneem en 'n bietjie vertel van die geskiedenis van Oktoberfest.  Dit was eers 'n huweliksfees van Koning Ludwig (beter bekend as Mad King Ludwig) sodat hy die mense van Bavaria kon verenig.  Die volk het daarna so deur die jare maar self daarmee aangehou.  Hierdie jaar was die 200 jaar viering van die fees, alhoewel daar nog net 177 feeste was.  Daar was tydens die oorloë nie gehou nie en vir sekere ander redes (wat ek nie als kan onthou nie) ook nie.  Daar is vir hierdie spesiale geleentheid 'n spesiale bier gebrou en daar is ook tradisionele gebeure soos bv. die perderesies. 

Die eerste wat my opgeval het, was die mooi kerk langs die terrein.  'n Tipiese geval van die kerk en die bar wat langs mekaar is...  Daar is ook 'n gedenkmuur opgerig by die ingang omdat daar 'n paar jaar gelede 'n bom in 'n asblik buite die ingang geplaas is, waarin 'n hele paar mense dood is.



Die gids het ons op 'n toer deur die terrein geneem en ons het by verskeie van die tradisionele biertente ingegaan.  Elke tent het sy eie karakter en versierings.  Daar is ook goed soos 'n Vlooisirkus (regtig!) en 'n lewende onthoofdingseremonie. 





Ons het toe op die beroemde wiel gaan ry en ek het my verkyk aan die klein Duitse kindertjies in hul tradisionele kleertjies!



Daar was natuurlik oral stalletjies met souveniers, maar die mees tradisionele souveniers was te groot om in te pak.  Die bekendste daarvan is gemmerbrood in die vorm van harte, met boodskappe in versiersuiker op geskryf.  Daar is allerhande oulike boodskappe (herinner 'n bietjie aan 'n PS-sjokolade) en oral loop mense rond met die gemmerbrood hangertjies om hul nekke.  Die gids sê egter dat dit regtig sleg is, omdat hul nie juis moeite doen vir Oktoberfest nie.  As daar dus 'n hongersnood is, behoort dit laaste geëet te word!



Deel van die toer was 'n bespreekte tafel in een van die oudste tente, die beroemde Hofbrauhaus.  Daar het ons elkeen 2L bier en 'n maaltyd gekry. 



Ek en Chris het nie kans gesien vir soveel bier nie (die bekers is 1L groot!) en het maar "radler" (bier en lemonade) gedrink.  Ons maatjies aan ons tafel het ook vir ons nog gekoop en ek is baie bly dat ons nie suiwer bier gedrink het nie!


Daar het intussen 2 mans van die ander toergroep aan ons tafel kom sit en ons het begin gesels.  Hul is albei in hul vlak 40's en die een is Louisiana en die ander van 'n staat waarmee ek nie bekend is nie, iets soos Wyoming of Oregon of dalk Arkansas.  In elk geval, die twee was vreeslik gaaf en die een, Christopher Carl, het so 'n lekker gesprek met my gevoer oor Amerika en Suid-Afrika en ek het dit nogal geniet.  Vir my was hy net 'n gawe man wat 'n intelligente gesprek kon voer.  Op die ou end het dit uitgekom dat hulle 2 gay is en al 14 jaar bymekaar is.  Ek het dit glad nie agtergekom nie!  Wel, ek moet toegee, hoe meer bier hul gedrink het, hoe duideliker het dit geword en wat aan die begin 'n heel lekker atmosfeer was, was later 'n bietjie ongemaklik.  Chris kon nie glo ek kon nie agterkom dat hul gay is nie en het gedink ek's baie weird toe ek hul vra.  Ek het darem 'n roos uit die storie gekry, so ek kla nie te veel nie.  Chris aan die ander kant, het baie flirtasie gekry, so ek is nie seker hoe dit vir hom was nie.


Dit was heerlik om die ander mense in die biertent dop te hou.  Ek het veral die tafels met groepe Duitsers geniet wat telkens opgestaan het en hul bierbekers geswaai en gesing het.  Maar, natuurlik was daar dié wat heeltemal te veel gehad het, en ek het omtrent gesukkel om so ou Noorweegse omie weg van my te hou.  Hy wou die hele tyd hê ek moet vorentoe leun en cleavage wys!  Hoe meer ek weier, hoe meer karring hy en noem my "stubborn"!  Dit het ook nie gehelp dat daar 'n Amerikaanse meisie was die tafel langs ons met jong Duitse dronkaards se aandag getrek het deur 'n bier met een asem weg te slaan nie.  Sy het nie veel inhibisies gehad nie, en elke keer wat ons na haar kant toe gekyk het, het sy nog 'n sitplek opgeskuif en 'n nuwe ou gevry!  Natuurlik het sy nie 'n probleem daarmee gehad om die Noorweegse omie sy sin te gee nie.  Die ergste was dat sy saam met haar ma en tannie daar was!

Hier is nog kiekies van die biertentervaring.  Daardie bierglase is so swaar, ek kan dit skaars met 1 hand optel!  Maar, al die kelnerinne hardloop rond met 5 in elke hand.  Blykbaar dra die groentjies bande om hul gewrigte om uit te hou.


Hierdie ouens het ook vir my so oulik gelyk in hul narpakkies, maar ek moes eers vir elkeen 'n drukkie gee in ruil vir die foto.  Een het wel in shy beshte Engelsh gevra hoekom ek 'n foto wil hê as ek die "real deal" kan kry!


Alhoewel ons eers gedink het dat ons sommer die hele aand daar sal wil bly, was ons teen 17:00 redelik uitgekuier met die spul dronkerige uitlanders.  Ons is toe terug hotel toe, waar ons maar besluit het om iewers te gaan wasgoed was.  Ek het eers gedink ons kan dit sommer by die hotel ingee, maar hulle vra bv. meer as 8 EUR vir 'n hemp!  Ek betaal nie eers soveel in SA vir 'n hele bondel nie!  My wasgoed was voor Chris s'n klaar (hy moes syne 3 maal tuimeldroog!) en ek het sommer alleen teruggestap hotel toe waar ek maar 'n bietjie gaan sit en blog het.  Teen die tyd wat hy terug was, was ek darem amper op datum, maar doodmoeg na die lang dag. 

Geen opmerkingen:

Een reactie posten