Die volgende oggend het ons afgesit stasie toe, met beter weervooruitsigte vir die dag. Die vorige dag se rus het my ook goed gedoen en ek was weer my sonnige self. Ons het in Damrakstraat by ons toermaatskappy aangekom en is in 'n bus gestop wat Engelse en ek dink Franse kommentaar gehad het. Hierdie toer het 'n uitstappie na die Nederlandse platteland ingesluit en ek het baie daarna uitgesien! Ons het oudergewoonte agter in die bus gaan sit en die keer was ons geselskap 3 Kanadese. Een van die Kanadese tannies was darem gewillig om in die hoekie te gaan sit sodat Chris se bene in die paadjie kan bly. Natuurlik het ek lekker met haar gekuier en sy het sommer baie dinge van SA geleer! Ons het ook gesels oor hoeveel Suid-Afrikaners daar in Kanda is (hul huisdokter is ook van SA) en sy sê hulle is gewoonlik gaaf en pas OK aan. Sy is ook bekend met boerewors en blykbaar is dit baie gewild daar!
Ons eerste stop was by 'n kaasfabriek. Daar het ons na 'n vinnige demonstrasie van kaasmakery gekyk en dit was alte bekend vir my! 'n Mens kon wel agterkom dat die gids nie so baie van haar werk hou nie en dat sy dieselfde toespraak 'n hele paar keer per dag doen. Sy het selfs met 'n oom geraas wat onderlangs gestaan en praat het! Ná die demonstrasie is ons na die winkeltjie toe en het ek my simpel geskrik vir die prys van gewone Goudakaas! Gelukkig was daar oorgenoeg om van te proe en ek het maar daarby gehou.
Hierna het ons 'n bietjie gaan rondloop tussen die verskillende windmeulens. Die meulens het verskillende funksies gehad, soos bv. 'n oliemeule. Ons het ons verkyk aan die mooi groen, die baie water en bespiegel oor wat SA met al hierdie water sou kon doen. Dit is alles ook baie plat. Duidelik onder seespiëel!
Na hierdie besoekie het ons verder gery al langs 'n groot dyk gery na 'n dorpie genaamd Volendam. Dit is 'n vissersdorpie en daar kon ons net langs die kaai rondloop en na die huisies kyk. Die vreemdste was verseker dat ons nie afgestap het hawe toe nie, maar op! Oral kan 'n mens agterkom dat die see naby is, met seesand wat in die mense se tuine is. Ek en Chris het iewers in die sonnetjie gaan sit en 'n koffie en gebak geniet terwyl ons in die rigting van die water gestaar het.
Ons het op 'n skippie geklim en na 'n ander dorpie, naamlik Marken, gevaar. Marken is blykbaar bekend daarvoor dat dit klompe vervaardig en daar het ons ook na 'n demonstrasie daarvan gekyk. Die klompe word met masjienerie uit die hout gevorm en dan word dit vir ten minste 'n week opgehang sodat dit kan uitdroog. Dit lyk omtrent soos bokkoms wat oral in die dak hang. Ek het geen idee hoekom iemand ooit aan houtskoene gedink het nie. Dit is blykbaar baie gemaklik en as 'n mens dit met dik kouse dra loop dit lekker. Die geheim is om twee vingers agter jou hak te kan inpas. Daar was ongelukkig nie 'n groot genoeg paar vir Chris nie en al wat ek kon bekostig was yskasmagneetklompe!
Ons is van hier af weer met 'n bus terug Amsterdam toe waar ons net genoeg tyd gehad het om weer die nr. 2-trem hotel toe te neem om ons bagasie te kry voordat ons trein na België sou vertrek. Ons sou graag nog 'n bietjie langer in Amsterdam wou bly, om ten minste een museum te besoek, maar daar was net een trein wat ons betyds by Lies en Jonas in Leuven sou kry. Dis 'n stywe end se ry. In Leuven het Jonas ons op die stasie gekry en ons het vir Lies gaan wag waar sy met haar ma se kar ons na haar huis in Sint-Amands sou neem.
Wat 'n pragtige plekkie! Dis duidelik meer plattelands en die huise staan wraggies in erwe en nie so vas teen mekaar geplak nie. Lies se ma het vir ons 'n tradisionele maal voorgesit en ons het bitter lekker gekuier so saam met die Franse wyn wat Lies se pa gereeld oopgemaak het. Ons het onder andere egte stoofvlees en frietjes geëet. Ons het ook Lies se boetie Klaas ontmoet, wat nou 'n 2de jaar chemiese ingenieurstudent is.
Die aand het verbygesnel en ons het baie laat in die bed geklim. Ons toer was basies nou op 'n einde met nog net so 2 dae se kuier wat voorgelê het.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten