donderdag 14 oktober 2010

Dag 17: Alternatiewe roete na Rothenburg

Ons is op ons 2de dag in Munchen vroeg op om betyds by die stasie te wees.  Chris het die vorige aand gesê hy wil eerste stort, maar toe stel hy sy wekker 'n uur te laat!  Ek het in minder as 20 minute gestort, aangetrek, hare geblaas ens. en is darem betyds weg.  Ons moes nog na die plek gaan soek waar ons toer na die kastele moes begin.  Op die ou end het ons sommer vinnig daar gekom en het toe lekker lank tyd gehad vir ontbyt.  Toe ons na die beginpunt van die toer aankom, het ek besef ek het in die harwar van die oggend vergeet om ons koopbewys van die toer saam te vat!  Die toermannetjie wou ons glad nie op die bus toelaat daarsonder nie en op die ou end het die bus sonder ons vertrek.  Hul het wel gesê dat ons bewys nog die volgende dag sou geldig wees, en ons het besluit om dan maar die twee dae op ons program om te ruil.

Ek het egter nie my Eurail pass by my gehad nie, en het maar treinkaartjies vir 22 EUR na Rothenburg ob der Tauber gekoop.  Dis ongeveer 3 ure se ry soontoe en Chris het eers aan die einde daarvan weer met my gepraat.  Ek was glad nie gewild nie, hoor!  Hy word nie sommer kwaad nie, maar daardie oggend het ek hom kwaad gesien.  Dit was wel dom om die bewys te vergeet, maar nou ja, dit help nie om daarby vas te haak nie. 

Nou ja, Rothenburg ob der Tauber is 'n dorpie in Duitsland op die sogenaamde Romantic Road.  Dit is 'n regte medievil dorpie met 'n muur wat steeds die ou dorp omring.  Alhoewel 40% van die dorp tydens die Tweede Wêreldoorlog vernietig is, het hulle met die hulp van die Duitse regering en privaat beleggers die dorp heeltemal herbou.  Wat 'n pragtige plekkie!  Die weer was sleg, met motreën, wind en digte wolke, maar Chris het gesê dit was vir hom nogal lekker om die plek so te beleef.  Dit het die atmosfeer in hierdie antieke plekkie heeltemal anders gemaak - amper spokerig.



Omdat dit al amper middag was, het ons eers gaan kos soek.  Ons het op die aanbeveling van 'n inwoner na 'n klein plekkie gegaan wat aan 'n tuiskombuis herinner.  Daar het ek 'n lekker soort alkohollose heuningbier gedrink wat ons vermoed eg Rothenburgs is, omdat ons dit nêrens anders weer kon kry nie.  Ons het albei vleis bestel, maar dit was die eerste keer in Europa dat ek regtig nie gelukkig met my kos was nie.  Die olie het in 'n dam op my bord gelê!  Ek het maar die meeste probeer afskraap met my mes, want ek was regtig honger en dit het my 13 EUR gekos!  Maar vir iemand sonder 'n galblaas was dit steeds nie 'n goeie idee nie, en ek was die res van die middag en aand naar.  Chris se kos was vir hom wel heel lekker.

Ons het deur die dorp gewandel, verby die dorpsplein en na die kerk toe. 


Hul is besig met herstelwerk en daarom kon 'n mens nie mooi sien hoe dit buite lyk nie.  Binne was dit wel mooi.  Ek het daarvan gehou omdat dit eenvoudig was.  Die dorp het ook 'n abbagemeente in Tanzanië of Nigerië of iewers daar rond.  Daar staan 'n houtbeeld wat van daar af kom in die kerk en die simboliek is heel mooi.  Dis 'n tipiese Afrikakanoo, kompleet met 'n Afrika-Maria.
 

Nog 'n vreemde ding was dat daar een of ander spesiale soort kruisbeeld in die kerk is.  Daar is blykbaar 'n flessie met 3 druppels van Jesus se bloed daarin en mense kom van reg oor die wêreld om dit te sien.  Ai die Katolieke darem...

Na die besoek aan die kerk het ons verder deur die dorpie gewandel en die pragtige landskap geniet. Van die paleistuine af kan jy uitkyk op die dorp en berge en selfs met die mis was dit pragtig! Dit het regtig gevoel of ek in die middeleeue stap.






Ons het ook elkeen 'n sneebal gekoop, wat tradisioneel in Rothenburg geëet word.  Dis vir hulle amper soos die koeksister vir 'n Afrikaner is...  Dis 'n bal, omtrent so groot soos 'n tennisbal, wat uit repies deeg gerol is.  Dit word dan gebak en versiersuiker word oorgestrooi.  Daar is natuurlik ook duurder variasies wat in sjokolade gehul is. 


Die volgende plek wat ons besoek het, was die Kersfeesmuseum.  Dis 'n museum wat die geskiedenis van moderne kersfees vertel, met bv. stories van waar die kersboom vandaan kom en ongeveer 150 kersvaders uit die verskillende tydperke.  Dan is daar ook 'n soort 'village' wat basies 'n geskenkwinkel is.  Daar is alles wat nog ooit met kersfees verband gehou het!  Liggies en balle en duisende blink items.  Dis pragtig!  Ek het die gevoel gekry dat ek op kersvader se werkswinkel afgekom het.  Die hele plek is ook met liggies uitgevoer en kersmusiek speel.  Dis 'n regte dogtertjieplek en Chris het heeltemal klusterfobies geraak! 


Ná die dogtertjieplek, moes ons natuurlik weer 'n seuntjieplek besoek.  Ons het na die Museum of Justice gegaan, wat gaan oor die medievil regstelsel en ook marteling.  Laasgenoemde was 'n wettige deel van die regsproses en as jy onskuldig pleit, is jy gemartel tot jy skuldig pleit.  Die middeleeuse mense het regtig nie veel van mekaar gehou nie.  Alhoewel, dit het seker nie veel verander deur die eeue nie.  Ons het nie genoeg tyd gehad om alles behoorlik deur te gaan nie, maar dit wat ons kon sien was baie interessant.  Daar was voorbeelde van amptelike seëls (sommiges so groot soos die boom van 'n wynbottel) en amptelike dokumentasie deur die pous.  Daar was ook 'n uiteensetting van die strawwe wat vir verskillende misdade toegedien is.  Een van die snaaksstes was 'n houtbalk met twee groot gate en 4 kleiner gate.  Wanneer daar 2 vrouens in die dorp was wat te veel gestry het, is hul daarin vasgemaak totdat hul vrede gemaak het.  Hul nekke was in die groter gate en hande in die kleiner gate.  Die doodstraf is ook op verskillende maniere toegedien, afhangend van die aard van die misdaad.  So is hekse bv. verbrand en verkragters in kwarte geskeur deur perde.  Die ergste was vir moord: hul het die persoon aan die speke van 'n wawiel vasgebind en dan in die rondte gedraai.  'n Hamer het aanhoudend geslaan en al die bene in sy lyf gebreek.  Wanneer hy op die ou end dood is, is die wiel opgehang sodat die voëls die lyk kan eet en die mense kan sien wat gebeur met 'n moordenaar. 

Na hierdie besoek het ons 'n bietjie op die ou stadsmuur gaan stap.  'n Mens kan nie veel sien nie, omdat dit so gebou is om aanvallers uit te hou, maar dit was steeds nogal lekker. 


Ons het weer die trein geneem en 3 ure later in Munchen aangekom.  Alhoewel dit nie presies was soos ons dit beplan het nie, het die veranderings in ons planne tog ten goede meegewerk.  Een van die bonusse was dat ons die volgende aand al in Munchen op die nagtrein kon klim en daarom meer slaap kon inkry as wat ons eers in Stuttgard (na Rothenburg) sou opklim.  Die weer die volgende dag was ook baie beter en ek kon beter foto's van die kastele kry.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten