dinsdag 2 november 2010

Mooiste herfs in Limburg

Jonas het my genooi om gister en vandag by sy ouerhuis te gaan kuier.  Die 1ste en 2de November is vakansiedae hier, vir een of ander Katolieke rede.  Ek het toe Sondagaand die trein na Puurs geneem waar Lies my kom haal het.  Ek het die aand by haar oorgeslaap en die aand lekker saam met haar mense gekuier.  Ons het ook vir ons kaartjies bespreek om Lord of the Dance in Antwerpen te sien.

Maandagoggend het ons die trein na Genk geneem waar Jonas se pa ons kom haal het.  Ons het groot pret gehad met 'n Britse komediereeks wat Lies op haar rekenaar gehad het.  Ek het so baie gelag!  Ons het so lekker storie gekyk, dat ons glad nie gehoor het hoe hulle afkondig dat osn na 'n ander deel van die trein moet skuif om na Genk te gaan.  Gelukkig het 'n meisie ons kom vra waarheen ons oppad is, want sy het 'n vermoede gehad dat ons nie gehoor het nie.  Ons is net betyds by die deur uit en by die regte trok in!

Jonas bly in die provinsie Limburg, die naaste aan Duitsland. Die dorpie waar hy bly is Rotem en sy hele straat bestaan uit familielede! Selfs die slaghuis is van die Doumen-familie! Die 20 minute se ry van Genk na Rotem was lieflik!  Ek het nog nooit so baie bome in herfskleure gesien nie.  Elke skakering van geel, oranje, bruin en rooi was langs die pad te sien.  Nadat ons belegde broodjes vir middagete gehad het, het ons 'n lekker ent langs die Maas gaan stap.  Lies en Jonas het gedink ek is lekker laf omdat ek elke boom afgeneem het!  Maar, die ongelooflike herfskleure rondom was so betowerend, ek moes probeer om dit vas te lê op kamera! 









Die aand het Jonas se ma ons bederf met 'n ongelooflike ete wat pampoensop, stoofvlees (bredie), krokette, perskes en nog iets anders (ek kan nie onthou nie), ingesluit het.  Jonas se ma en pa is sulke gawe mense en alhoewel hul al 50 is en 'n kleinseun van 'n jaar oud het, lyk hul nie 'n dag ouer as 40 nie!  Ons het lekker gekuier en na ete het ek, Lies en Jonas bordspeletjies gespeel.  Ek het ook vir Jonas se ma en pa my bladsye van my fotoboek wat ek reeds ontwerp het, gewys.  Daarna het ons voortgegaan om die Britse komediereeks te kyk en is later doodmoeg bed toe.  Ek het op 'n matras in die sitkamer geslaap, maar dit was een van die lekkerste beddens waarin ek in die laaste paar maande geslaap het!  Die matras was styf en daar was nêrens bedvere wat lawaai het nie! 

Dinsdag het ons lekker laat geslaap en die res van die dag binne rondgehang.  Die weer was maar mislik buite. Ek het storie gekyk en aan my fotoboek gewerk en Lies het haar onderwysdiploma-admin gedoen.  Die aand het die tannie ons weer bederf met 'n lekker aandete: gehakte vleesrol en frietjes, met 'n heerlike Belgiese pynappelvlanagereg.  Die lekkerste was die bottels Simonsvlei wyn wat hulle oopgemaak het! 




Alhoewel die 2 dae nie soveel sightseeing ingesluit het nie, was dit heerlik om 'n bietjie weg te kom!  Jonas se ouers is so gaaf en hul het my genooi om weer te gaan kuier.  Ek dink dis iets wat ek verseker graag wil doen!

Geen opmerkingen:

Een reactie posten