maandag 29 november 2010

Londen (se winkels) op 'n drafstap

Die volgende oggend was ek en oom Eddy vroeër as die res van sy kollegas uit die vere omdat ons soveel moontlik wou inpas voordat ek na Liverpool moes vertrek. Oom Eddy het ’n hele program beplan en dit was stampvol!

Ons eerste stop was die beroemde (en enorme) winkel, Harrods. Dit is die winkel van die pa van Dodi al Fayed, die man saam met wie prinses Diana verongeluk het. Daar is ’n ook ’n soort monument vir hul in die winkel. In elk geval, Harrods is ongelooflik! Oom Eddy het my na hul vars produkte afdeling geneem en ek kon nie glo wat ek sien nie! Die seekosafdeling was gepak met vars visse en ander seekos – elke kleur en geur! Elke keer wat ek deur ’n ander deur geloop het, het ’n nuwe wonderwêreld verskyn. Die dak, mure en rakke is keurig versier en die effek is so mooi. Ons het op die ou end ook by die vleistoonbanke aangekom en ek het verlangend na die groot stukke fillet en tjops gekyk. Die lekkerste was egter die klein stukkie wat bakke biltong in gehad het! Ek het vir die Augustinus-gesin ’n pakkie van 100g biltong vir meer as £4 gekoop – ongeveer 4 maal duurder as wat ek in SA betaal. Maar, ek dink dit was die moeite werd. Hulle was baie opgewonde en oom Eddy het baie daarvan gehou. Ons het ook na nog ’n afdeling gegaan en alhoewel ek nie presies kan onthou wat daar alles was nie, was daar die pragtigste teddiebere!








Ons het na ’n groot speelgoedwinkel gegaan en ek het my verkyk aan alles. Ek het ook ’n foto by die legendariese Narnia-lamp geneem (daar is ’n spesiale Narnia-uitstalling al langs die trappe af en soos ’n mens beweeg, loop jy verby bekende Narnia-prentjies). Oom Eddy en ek het toe na ’n tradisionele koffiewinkel gegaan vir ’n tradisionele koppie tee. Dit was wel die duurste koeldrank en espresso wat ek nog gesien het!






Hierna net ons weer deur Piccadelli Circus geloop, wat heeltemal anders in die dag lyk. Ek is baie bly ek het dit in die aand beleef! Ons volgende besoekpunt was 'n (volgens oom Eddy) tipiese Engelse winkel, Fortnum & Masson. Binne was weer 'n groot verskeidenheid en daar was bv. 'n enorme hoeveelheid tipes tee om van te kies. Daar het ek weer biltong gekoop - die keer vir die familie in Liverpool.








Ons het 'n vinnige draai by Covent Garden gaan maak. Dit het ontstaan as 'n groentetuin vir die monnike wat in Westminister Abby gebly het, maar is vandag 'n bekende en enorme mark. Oppad na die Brittish Museum het ek iets eg Suid-Afrikaans raakgesien: Nando's! Ons het toe besluit om lekker gebraaide hoender en Suid-Afrikaanse wyn te gaan eet en drink en ek dink oom Eddy het dit darem geniet. Ek het vroeër nie geweet Nando's is Suid-Afrikaans nie, maar het 2 en 2 bymekaar gesit toe ek besef ek het nêrens in Europa al daarvan gesien nie en die styl en tipe bemarking pas by SA. By die Brittish Museum het ons blitsvinnig ingespring om die Rosetta-steen te sien. Dit is die beroemde steen wat dit moontlik gemaak het om Egiptiese hiërogliewe te ontsyfer, omdat dieselfde teks daar in 3 tale geskryf staan: Grieks, Egipties en Demoties. Ons het darem ook 'n klomp Egiptiese en Griekse artefakte gesien. Blykbaar moet jy nie veel verwag van antieke Griekeland nie, omdat alles in die Britse museum is! Ek sou verkies dat elke land sy eie wonders moet besit, maar nou ja, wie is ek om die kunspolitiek te probeer dikteer!





Ná die Brittish Museum het ons gou ons bagasie by die hotel gaan haal en oom Eddy het na St Pancras-stasie vertrek om weer terug België toe te gaan. Ek het in die rigting van die Victoria Busstasie gegaan, maar het besluit om by Buckinghampaleis en die Queen Victoria Memorial langs te loop. Ek weet nie presies wat ek verwag het nie, maar dit was bietjie 'n teleurstelling. Altans, dit het my 'n ruk gevat om dit wat ek altyd op die TV sien te laat ooreenstem met wat voor my was. Dit is egter wel 'n enorme kompleks.







Ek het uitasem, maar net betyds by die stasie aangekom om die rit uit die hel na Liverpool aan te pak. 6 ure op 'n bus is geen grap nie - veral as 'n mens rysiek word! Die man langs wie ek te lande gekom het, is van Rusland af en hy kon nie 'n woord Engels verstaan nie. Boonop het hy gerook en het kort-kort met my probeer kommunikeer met die vrotterige rookasem (wat my natuurlik nog naarder gemaak het). Ek het 'n mooi fliek op my rekenaar gesit en kyk en natuurlik snot en trane gehuil, wat veroorsaak het dat Raspoetin langs my heel simpatiek wou weet wat fout is. Hy wou ook op 'n stadium my e-posadres hê en toe gee ek maar vir hom 'n verkeerde adres (hoe beplan hy in elk geval om met my te kommunikeer as hy nie Engels verstaan nie?). Die bus het ook 'n alternatiewe roete geneem as gevolg van 'n ongeluk op die snelweg, maar moes later omdraai omdat dit nie onder 'n klein bruggie kon pas nie. Die rit is toe met nog 'n halfuur verleng! Die laaste uur het ek letterlik met my kop tussen my bene gesit en ek was bitter bly toe ons op die ou end tot stilstand gekom het! Oom Ducky se eerste woorde aan my was: "Wie het jou so kwaad gemaak?"

Dit was so lekker om die familie weer te sien. Hulle almal lyk presies soos ek van meer as 10 jaar gelede onthou, behalwe dat Aimee nou 'n mooi jong dame geword het. Die reunie was elke minuut op die bus werd.

Later het ek wel lekker warm aan die slaap geraak met die gedagte dat ek geen idee het waarom nie, maar Londen het my verras. Ek het al gehoor (en gelees) dat 'n mens hier nie met die Londenaars moet praat nie, omdat hul regtig as 'n spesie heel mislik is. Elke persoon wat ek egter langs die pad gestop het om iets te vra, het my egter so mooi behandel en dikwels selfs saam met my gestap na waar ek wil wees. Ek was nou in 13 lande en Engeland is een van die enigstes wat ek dink ek vir 'n ruk lank in sal kan bly. Alhoewel ek nie 'n stadsmens is nie, fassineer Londen my. Daar is ook 'n taalskool wat Afrikaans aanbied...

Oom Eddy, baie dankie vir die voorreg om Londen te kon sien!  Ek is regtig dankbaar vir die geleentheid! 

Geen opmerkingen:

Een reactie posten