Donderdagoggend het ek vroeg uit Antwerpen na Brussels vertrek, om die Eurostar trein na Londen te haal. Dis omtrent 'n proses om deur die stelsel tot in die trein te kom. Die Europeërs om my waai net hulle maroen paspoorte en draf deur sekuriteit, maar sodra my groen paspoort na vore kom, word ek vorms in die hand gestop en ondervra - vreemd genoeg dieselfde vrae wat ek in die eerste plek moes antwoord om 'n visum te kon kry! 'n Mens sou sweer ek is 'n krimineel net omdat ek van Afrika af kom! Dis nou nie asof België nie boewe en skelms het nie, maar hul kan net hul paspoorte waai en is vry om in Engeland te gaan droogmaak!
In elk geval, dit was glad nie so opwindend om onder die see rond te ry nie, die tonnel is gewoon lank en donker en lyk glad nie soos 'n akwarium met visse rondom jou nie. Nadat ek in Londen weer verby 'n klomp bobbies moes beweeg, teen hierdie tyd al deeglik bewus van my status as Afrikaan, het ek by St Pancras-stasie vir oom Eddy ontmoet.
Dit was net na 10:30 en hy het my die trappe op geneem, waar 'n hele orkes en mense gewag het. Nee, dit was nie 'n verwelkomingsorkes nie, maar wel 'n seremonie om Remembrance Day te herdenk. Daar was 'n hele programmetjie en ons moes goeters opsê en reageer op die dominee se pleidooie om saam te veg teen die kwaadhede van die wêreld met "I will". Aan die einde moes ons die Onse Vader in Engels sê en het geluister na daardie blaasinstrument-liedjie wat hul altyd vir weermagbegrafnisse speel. Roerend. Om 11:00 het hul 'n afkondiging gemaak dat daar 'n 2-minute stilte gaan wees waaraan almal asb. moet deelneem om al die gesneuwelde soldate te eer. Alles het skielik doodstil geword, selfs die treine se enjins is afgeskakel. Dit was regtig 'n gewyde stilte en ongelooflike gevoel.
Oom Eddy het my toe na 'n pub by Leaden Hall Market geneem, Bunch of Grapes. Daar het ons twee van sy kollegas ontmoet vir middagete. Na al die tyd in België en al die konsentrasie om die Nederlands oral te verstaan, was dit skoon vreemd om Engels te hoor. Dit het my dikwels 'n rukkie gevat om agter te kom dat die rede waarom ek nie verstaan nie, is omdat ek probeer om die Nederlands te verstaan, wat eintlik Engels is! Daarna het ons 'n bietjie rondgeloop en ek het my verkyk aan al die Londense werkers wat middagete in die pubs geniet. Oral waar jy by vensters inkyk, is mans in pakke en vrouens in properse pencilrompe besig om te lag en gesels en 'n biertjie te geniet. Ek weet nie hoeveel van die Engelse mannetjies wat ek so gesien het is eintlik Afrikaners nie (ek vermoed 'n klomp, want 'n mens kan ons mos 'n myl ver sien!), maar sjoe! - daar is nou vir jou oulike gesiggies! Oom Eddy het so lekker gelag vir die woord "besigheidsman".
Oom Eddy het my hierna na die Tower of London geneem, sodat ek 'n bootjie op die Theems kon haal om 'n bietjie te gaan verken. Hy het 'n afspraak met sy studente by Lloyds gehad. Dit het egter so erg gereën dat ons vir 'n ruk langs eers moes gaan skuiling soek. Ek het skielik verstaan wat almal met 'n grys Londen bedoel. Tog was dit vir my pragtig. Ek het oorspronklik daaraan gedink om by die Tower of London in te gaan, maar die prys (22 pond) het my goed afgeskrik. Ek het daarom maar afgesit na 'n bootjie om my na Westminister Abby te neem. Teen die tyd wat die boot begin vaar het, het dit darem oopgetrek en 'n volle halfuur van ope lug het gevolg. Let wel: dit was al blou lug en son wat ek in 2 dae gesien het! Hier is 2 van die talle foto's wat ek van Tower Bridge geneem het. London Bridge was toe niks om eintlik te sien nie.
Langs die pad (of altans die rivier), het ek die bekende landmerke wat altyd op TV verskyn, gesien. 'n Mooi prentjie van die son wat oor die wolkekrabbers loer het my vir 'n oomblik vasgevang. Die boepensgebou aan die linkerkant van die foto is die nuwe burgemeesterstuiste. Blykbaar dra die unieke vorm daarvan by tot minder energieverbruik. Ek weet nie - die gids het maar skepties geklink!
Die volgende landmerk wat voorgelê het, is die Millenium Wheel of London Eye. Dit is blykbaar die Britte se reaksie op konstruksies soos die Eiffeltoring - 'n wiel wat jou die verste uitsig in die wêreld gee en op 'n helder dag selfs die Windsor-kasteel sigbaar maak. Aangesien dit geen helder dag was nie, het ek nie gedink dat dit die moeite werd is om meer as 30 pond uit te haal om in die rondte te draai nie. Die bus op die London Bridge op die onderstaande foto gee perspektief op die grootte van die wiel.
Oorkant die London Eye is natuurlik die oom wat almal wil besoek: Big Ben. Dit is die kloktoring van die Westministerpaleis, die tuiste van die Britse parlement (as ek dit nou reg het). Dit het my heeltemal dronk gemaak om op te kyk na die toring, want met die wolke wat bo-oor beweeg het, het dit laat lyk of die toring wieg.
Westminister Abby het van buite af presies gelyk soos in al die prentjies en foto's (en Friends-episode 423!). Dit het egter 12 pond gekos om in te gaan en daarom het ek dit ook maar gelos. Dit was in elk geval meer interessant om buite rond te hang. Omdat dit Remembrance Day was, was daar oral kruisies in die grasperk geplant om die gesneuweldes te herdenk. Die rooi doughnut-afêre, is eintlik 'n soort blommetjie (klaprozen in Nederlands en poppey in Engels, papawer in Afrikaans) wat die simbool van oorlog geword het. Met Remembrance Day word mense aangemoedig om so 'n kunsmatige blommetjie te koop en aan hul klere vas te speld. Die opbrengs gaan dan vir soldate. Daar was ook 'n area afgebaken vir Suid-Afrikaanse soldate wat in die Britse mag geveg het (foto onder die klaprozen-doughnut). Natuurlik geen kruisies vir die 26 000 vrouens en kinders en wie weet hoeveel boerekrygers nie! Wat my egter nogal gevang het, was die bedding met die kruisies vir gestorwenes wat in Afghanistan geveg het. Die kruisies het foto's op gehad en dit was opvallend hoe jonk soveel van die manne was. My ouderdom en jonger. Dis sulke tye wat die wêreld en die mensdom net glad nie vir my sinmaak nie! Wat is die punt van oorlog? Dis een ding om te dink dat soldate hul lewens verloor, maar dit is moeliker om dit te aanvaar wanneer jy na die gesigte kyk en besef dat elkeen van daardie mense iemand se seun, broer, moontlik pa of oupa was. Elkeen het 'n lewe gehad, 'n storie. Hul het al die moeite gedoen om groot te word en vir wat?
Ná my besoek aan die Abdy, het ek weer die strate ingevaar. Ek het onder andere verby die Eerste Minister se woning, Downingstraat 10, geloop, maar dit word so beskerm dat 'n mens nie 'n glimps daarvan kan kry nie. Die reën het nog weggebly en ek het my verkyk aan dit wat 'n mens gewoonlik met Londen assosieer: rooi busse, rooi telefoonhokkies, ens. Dit was nogal 'n wonderlike gevoel om dit alles self te beleef. Soos ek geloop het, het die stad voor my oopgevou en ek het skielik so tuis gevoel tussen die klassieke wêreldikone. Die huistoe-verlang wat so aan my geknaag het die laaste ruk, was rustiger. Alhoewel Londen geensins soos sonnige Suid-Afrika is nie, was daar iets so bekends aan hierdie vreemdheid. Aan die einde van my wandeling het ek by Trafalgar Square uitgekom en die eerste ding wat ek gesien het (behalwe natuurlik die obelisk in die middel), was die Suid-Afrikaanse vlag wat hoog bo 'n gebou voor my gewapper het: die Suid-Afrikaanse ambassade.
Geen opmerkingen:
Een reactie posten