Ná die aaklige rit van Londen na Liverpool, was dit heerlik om die langverlore familie weer te sien! Drie stywe drukkies later was ons in hulle kar oppad na hul huis toe en het alles so normaal gevoel met die padgebruikers wat die "hou links, gaan regs verby"-ding doen. By die huis het ons 'n bietjie gekuier, nuus van die familie uitgeruil en daardie nag het ek in 'n heerlike warm bed geslaap.
Wat jou laat besef jy is in die geselskap van Suid-Afrikaners, is wanneer jy in die oggend wakker word met die reuk van spek en eiers in die lug! Vir die Europeërs is 'n groot ontbyt mos net 'n croissant of twee. Ná ontbyt het ons 'n piekniekmandjie gepak en vertrek op een van die lekkerste uitstappies nog: 'n dag in Wallis se platteland. Dit was ysig buite, maar die dag was mooi en die lug blou. As dit net nie vir die windjie was nie, wou 'n mens amper kon dink dis somer.
Oppad na ons eerste besoekpunt, het ons al langs die kus gery en het oom Ducky vir my 'n klomp interessante feite van die omgewing (Liverpool en Manchester) vertel. Daar is bv. so 'n 15m verskil tussen hoog- en laaggety. Ons het daar verbygery met laaggety en die water was letterlik 100m ver weggetrek. Daar het groot sandbanke modder gelê en volgens oom Ducky is dit van die wêreld se grootste mossel en ander skulpvis modderbanke.
Wanneer jy oor die grens van Wallis ry, word jy hartlik verwelkom met borde met drake op - die simbool van Wallis. Die borde raak ook skielik onverstaanbaar, omdat hul Wallies praat. Die eerste plek wat ons besoek het, was Conwy. Dit is 'n klein dorpie, waarvan die binneste deel van die dorpie volledig binne kasteelmure is. Die kasteel is een van daardie wat 'n mens se gedagtes binneskiet wanneer jy dink aan "kasteel".
Die dorpie is ook teen die see en die vissersbootjies wat daar ronddobber, herinner 'n mens aan 'n vreedsame vissersdorpie, en die naam Vishoek kom by my op. Daar was min mense (dankie tog!), maar blykbaar krioel dit in die somer van toeriste. Een van die grootste (of kleinste, eintlik) toeristeaantreklikhede, is die kleinste huisie in die UK. Daar het 'n soldaat wat langer as 6 voet is, saam met sy vrou gebly. 'n Mens kan nie dink dat dit moontlik is vir selfs net een mens om in so 'n hokkie te leef nie. Dan, aan die ander kant, behoort die gemiddelde plakkerskamp in SA jou van daardie verwondering te stroop.
Ek en Aimee het rondgedwaal op die kaai en ook op 'n soort mossel-monument afgekom. Ek weet nie presies waarvoor dit is nie, maar dit kan dalk verwys na daardie modderbank-mosselstories wat oom Ducky my vertel het. Hy het intussen 'n man met 2 honde gesien en onmiddellik met die honde begin praat en speel. Op die ou end was die man ook 'n Suid-Afrikaner! Blykbaar is Wallis redelik simpatiek teenoor Suid-Afrika.
Hierna het ons verder in die straatjies van Conwy gewandel en toe gaan tee drink by tannie Caroline se gunsteling kafee gaan tee drink. Die Van der Westhuizens is nes regte Ingelse - gek oor tee! Die plekkie is piepklein en knus, met die geselligste atmosfeer! Ons het lekker warm tee gedrink en fyn Engelse gebak geëet. By die tafel langs ons het 'n dogtertjie, haar ma en haar ouma gesit. Die ouma was geesdriftig besig om die dogtertjie Wallies te leer. Pragtig!
Ná ons teetjie, het ons weer 'n bietjie gaan rondloop. Ek en oom Ducky het op die kasteel se mure gaan loop en dit was absoluut magic. Vir 'n oomblik word 'n mens weggevoer na die tyd van Merlin en Koning Arthur en verwag jy om soldate met hul ysterkleertjies en spiese raak te loop. Kyk hoe pragtig is dit!
Ná Colwy het ons na 'n ander klein dorpie in Wallis gegaan: Betsw-y-Coed. Die pad soontoe was absoluut wonderlik. Dit is die mooiste platteland - groen, bome wat hul takke wyd oor die pad sprei, water, brûe en berge. Betsw-y-Coed is tannie Caroline se gunsteling plek in Wallis, en ek kan heeltemal verstaan hoekom. Dis 'n klein dorpie, omring deur berge. Nie die hoogste tipe berge nie, maar steeds pragtig. Daar is houthuisies wat winkels is en 'n klipkerkie. 'n Groot, suiwer stroom kabbel verby die enkele straat en die grasperke daar nooi jou uit om piekniek te hou. As dit nie so koud was nie, het ons moontlik lekker op die gras gesit, in plaas daarvan om weg te kruip in die kar. Toe oom Nicky en tannie Edith in die somer in Liverpool kom kuier het, het hulle selfs daar langs die grasperke gebraai.
Ons het geëet en toe 'n bietjie gaan rondloop. Die klein houthuis-winkeltjies was tipies toeristegedrewe, met buitensporige pryse vir interessante wit olifante. Van die oulikste goed wat ek gesien het, was 'n verskeidenheid van Betty Boops, in verskillende kostuums. Die foto met die vreemde houtobjekte, vertel eintlik van 'n tradisie in Wallis. Die houte is eintlik lepels, wat elkeen uniek is, met die mooiste patrone. Dit is wat die Walliese mans van ouds gebruik het om hul liefde aan die Walliese vrouens te verklaar. Indien die man 'n soort huweliksaanbod aan 'n vrou gemaak het, het hy vir haar spesiaal 'n lepel uit hout gekerf. Dis te pragtig! Indien my toekomstige man eendag toevallig op hierdie blog afkom: ek wil ook 'n lepel hê, hoor! Maar, ek sal ook heeltemal tevrede wees met iets soortgelyks, soos 'n verloofring... O, en let op die drakie wat op die dak van een van die winkeltjies is. Dit is die Walliese drakies wat die mense binne die gebou beskerm teen evil. Elke gebou of huis is veronderstel om (volgens tradisie) een te hê. Vreemd, maar nou ja, in Rome en 'n klomp ander Europese plekke is daar beeldjies van Moeder Maria teen die geboue, vir dieselfde doel.
Teen 15:00 het ons maar weer begin terugry huis toe, omdat dit begin donker word het. Die aand het oom Ducky vir ons gebraai en maggies, was dit nou vir jou lekker! Regte egte (wel, met Britse beeste) boerewors - knoffelgeur, as ek reg onthou, en ribbetjies. Dit was die lekkerste bederf! Later die aand het ek ons beproefde souskluitjieresep uit SA laat kom en het vir oom Duck Afrikaanse souskluitjies gemaak. Hy was skoon bewoë - volgens hom het hy dit 30 jaar laas gehad. Tannie Caroline en Aimee het ook baie daarvan gehou en blykbaar sou hulle dit weer eet. Daardie aand het ek, soos die res van Brittanje, na Strictly come Dancing en The X-factor gekyk. Dis heeltemal verslawend! Dit was nie lank nie, of ek het ook ewe hard gesit en kommentaar lewer oor die deelnemers se (on)vermoë!
Die volgende oggend het ek en tannie Caroline en Aimee die bus na Liverpool se middestad geneem. Terwyl ons by die bushalte gewag het, het dit 11:00 geword en omdat dit Remembrance Sunday was, was daar weer 'n afkondiging dat daar 'n 2 minute stilte sal wees. Alles het doodstil geword. Dit was so cool. Maar, daar was wel 'n kar iewers langs ons waar die mense die hele tyd gesit en raas het. Ek wens julle kon die kyk sien wat Aimee hul gegee het! Dit het my herinner aan die storie wat oom Ducky vir my vertel het: daar was outjies in Aimee se klas wat haar die hele tyd geïrriteer het en eendag het sy haar heeltemal in haar Wiskundeklas vererg. Sy wou hulle so graag ordentlik vloek in Afrikaans, omdat sy geweet het hulle sal nie verstaan nie, maar haar onderwyser was Afrikaans. Hy sou daarom geweet het wat sy sê. Sy besluit toe op: "Jou bliksemse oranje wortel!" Dit het heeltemal aggressief genoeg geklink en die mannetjies was heeltemal ontsenu. Haar onderwyser het hom blykbaar amper pap gelag!
Dit was 'n bitter koue dag en ons het daarom maar van winkel tot winkel gehardloop om uit die aaklige koue te kom. Natuurlik was die meeste van die winkels net vir window shopping, want daar mag 2 ponde in 'n kilogram wees, maar daar is 12 rande in 'n pond! Dit was egter heel lekker om daar rond te dwaal. Hulle het my ook na die kersmark(ie) toe gevat en daar het ons op 'n splinternuwe monument afgekom: een wat John Lennon (van die Beatles-faam, blykbaar) se vrou vir hom laat maak het. Dis blykbaar 'n Liverpoolse groep...leer ek ook iets! Later het dit vir my duideliker geword, met Lennon se gesig en sy ronde brilletjies wat oral opgeduik het. Een klein seuntjie het selfs in die bus oppad terug na 'n enorme silhouet van Lennon gewys en vir sy ouma gesê: "Look Gran, Harry Potter!" Ek het eers gedink hy is tog te oulik, maar nadat hy vir ten minste 40 van die 45 minute geskree het, was ek nie meer so opgewonde oor die knapie nie.
Die ander twee interessante goed wat ek in Liverpool gesien het, was 'n regte Indiaan en 'n stukkende kerk. Jip, daar in die middel van Brittanje het ek my eerste Amerikaanse Indiaan gesien - vere en al! Hulle het op die plein gestaan en musiek maak met tradisionele panfluite en tannie Caroline was gek oor hulle! Dan, die stukkende kerk: dit was een van die plekke wat deur 'n bom in die 2de Wêreldoorlog getref is. As 'n herinnering aan wat gebeur het, het hulle nooit die kerk gerestoureer nie. Dis vreemd: binne is alles heeltemal verwoes en daar groei plante waar eens kerkbanke gestaan het, maar buite lyk dit soos een van Europa se gewone kerke.
Daardie aand het ons 'n tradisionele Engelse middagete gehad en tannie Caroline maak verseker die lekkerste roast wat ek in my lewe nog geëet het! Daar was ook tradisionele Yorkshire pudding, wat nie poeding is nie. Dis 'n soort degieding wat heerlik is wanneer 'n mens sous in die gaatjie gooi. Die res van die aand het verbygegaan met die uitslae van Strictly come Dancing en The X-factor.
Die volgende oggend was dit nog baie donker toe tannie Caroline en Aimee my kom groet het. Oom Ducky het my later die oggend na Liverpool se lughawe toe gevat, waar dit maar swaar was om afskeid te neem. Hul het Britse burgerskap en sal nie weer teruggaan SA toe nie, en dis jammer. Dis sulke wonderlike familie! Hopelik kom ons gou weer bymekaar uit. Dankie vir 'n wonderlike naweek! Dis lekker om te weet dat selfs al is jy ver van die huis af, jy steeds nie alleen is nie.
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten