So gesê, so gedaan. Ek, Lies, Jonas en Klaas (Lies se boetie) het 'n afspraak gehad om 11:00 na die verhaal van Duvelbier te luister. Ons was 'n buitengewone groot groep mense, seker ongeveer 50. Ons het eers na 'n video van die maak van bier gekyk, wat die bestandele van water, hops en gars insluit. Daarna het hulle ons na die brouery self geneem - vreeslik modern en enorme tenks, wat elk 'n miljoen botteltjies bier op 'n slag kan insluit.
Ná die toer deur die brouery, het ons gekom by die lekker deel van die besoek: die produkkonfrontasie! Ons kon elkeen twee verskillende biere proe, en omdat daar so 'n groot verskeidenheid was, het ons besluit om elkeen 'n verskillende bier te bestel en dan almal saam daaraan te proe. Op die ou end het ons 8 verskillende biere geproe: van Liefmans, wat 'n soort kersie- en framboosbier is (soos die moeder van Kriek, Chris!), tot biere wat meer as 8% alkohol bevat, en 'n kersweergawe wat spesiale kruie bevat. Ons het oorspronklik beplan om na die bierbesoek 'n bietjie in Brussels te gaan ronddwaal, maar die simpel weer en die luiheid wat deur die bier veroorsaak is, het die oorhand gekry. Ons het daarom huis toe gegaan en gaan rus, met die plan om die aand saam met oom Eddy en tannie Lieve Brussels in te vaar.
Daardie aand het oom Eddy en tannie Lieve vir my, Jonas en Lies na Brussels geneem. Die eerste plek wat ons gou by gestop het, was die bekende Atomium. Dis die Brussels-weergawe van die Eiffeltoring en was blykbaar gebou vir die Wêreldekspo van iewers ver terug in die verlede. Die monument/standbeeld is ind ie vorm van 'n ystermolekule en ek het 'n vermoede my ingenieurvriende sal groter waardering daarvoor hê as ek - vir my was dit net: "Kyk die liggies!"
Hierna het ons in die strate van Brussel se verkeer vasgesit, oppad na die stadsentrum. Nadat ons uiteindelik daar aangekom het, het ons parkering naby die sentrale treinstasie gekry en toe die koue aangedurf. Ons het eerste na die Katedraal gegaan. Dit was amptelik die begin van advent en daar was 'n vespers aan die gang.
Ons het verder in Brussel se strate geloop en ons verkyk aan mense, sjokoladewinkels, en nog mense. Ons het ook deur 'n gallery geloop waar ek uiteindelik modelletjies van die Kersman en Sinterklaas gesien het. Daar is inderdaad 'n verskil, want die twee se geskiedenisse en tradisies is heeltemal verskillend. Daar is ook nie regtig een wat ooreenstem met die kommersiële Kersvader nie. Sinterklaas is die eerste foto: dis Sint Nikolaas, in sy Katolieke kleertjies, en die ander is die Kersman, 'n kort kabouter.
Ek het ook 'n regte kersmark gesien - die jaarlikse Winterpret. Daar is 'n groot wiel, bome met liggies en 'n 2 lang rye met klein houthuisies wat stalletjies is en alles verkoop waaraan jy kan dink. Alhoewel dit bitterlik koud was, was die atmosfeer heerlik warm. Daar was ook 'n soort monster - 'n opblaasdraak waarvoor 'n mens 4 EUR betaal om deur te loop. Jy glip by sy bek in, en maak kennis met enorme opblaaslonge en 'n hart. Dan kom jy by die ingewande en ontmoet 'n paar gewese mense (beendere). Daar is ook waaiende villi en scary donker plekke waar 'n mens om die hoeke van die ingewande moet kruip. Ek en Lies het die tog aangepak en het na 'n paar gille laggend anderkant (raai waar...) uitgekom.
Die mooiste en lekkerste plek was die Grote Markt van Brussel, waar hulle teen die fassade van die Stadshuis met 'n projektor allerhande prentjies gegooi het, met oorverdowende kersmusiek. Daar was ook 'n enorme kersboom en oral het mense gestaan en die kersfeesatmosfeer geniet.
Hierna het ons een van die bekendste landmerke van Brussel gaan besoek, nl. die Manneken pis. Dis 'n beeldjie van 'n klein seuntjie wat staan en piepie in die fontein. Daar is verskeie legendes daarby, onder andere 'n pa wat sy seun iewers op een van die pleins in die stad verloor het, en hom weer gekry het toe hy in die fontein gestaan en piepie het. Weird, ek weet...
Dit was nooit regtig my behoefte om Brussel, die hoofstad van Europa te besoek nie. Maar, ek is bly ek het. Dit is tog bekoorlik en selfs al was dit bitter koud, was dit steeds heerlik om in die strate te kon ronddwaal.
Geen opmerkingen:
Een reactie posten